Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KSA weier dat Saskok ingryp, win regshulp in

Krieket Suid-Afrika (KSA) gaan nie vrywillig instem tot Saskok se plan om ’n taakspan aan te stel om die krieketbeheerliggaam se talle administrasiekwale te ondersoek nie.

Beresford Williams, die waarnemende president van KSA Foto: Yunus Mohamed

KSA het Vrydag om 01:00 in ’n verklaring ook bevestig dat hy regsadvies oor die aangeleentheid ingewin het.

Dit kom nadat Saskok Donderdag in ’n brief sy voorneme bekend gemaak het om KSA se raad en sekere uitvoerende beamptes tydelik van hul administratiewe pligte te onthef, terwyl die taakspan sy maand lange ondersoek na KSA-bestuurspraktyke doen.

Netwerk24 verneem KSA se lederaad, wat uit die 14 uniepresidente bestaan en die hoogste krieketgesag in die land is, het Donderdag om 21:00 ’n noodvergadering gehou om die kwessie te bespreek.

“KSA, insluitend sy lederaad, stem nie saam met die besluite wat Saskok geneem het nie en het nog nie die kans gehad om met Saskok in verbinding te tree rakende talle kwessies wat in sy mededeling vervat is nie,” sê KSA in sy verklaring.

“KSA win boonop regsadvies in rakende die gronde waarop Saskok by KSA se sake wil intree. KSA verbind hom egter daartoe om verder met Saskok te skakel om sy posisie te verstaan, en gemeenskaplikheid te vind met die beste belange van krieket as die middelpunt.”

KSA, insluitend sy lederaad, stem nie saam met die besluite wat Saskok geneem het nie. . .

In sy skrywe aan KSA noem Saskok dat hy ’n ondersoek gelas deur sy reg uit te oefen soos uiteengesit in die Wet op Nasionale Sport en Ontspanning (Wet 110 van 1998), in besonder artikel 13 (4). Dié artikel lui dat die Sportkonfederasie op enige tyd ’n ondersoek mag loods na ’n sportliggaam waar daar, onder meer, bewerings van wanbestuur of wanadministrasie is.

Saskok verwys ook na sy eie grondwet wat hom magtig om by sy lede in te gryp.

Saskok sê in sy skrywe dat hy ’n opdrag van die minister van sport, Nathi Mthethwa, gekry het om by KSA se sake in te gryp.

Dit blyk dus of KSA teen ’n tornado wil skreeu. Dit is nog onseker hoe Saskok die saak verder gaan voer.

KSA bevestig ook in sy middernagtelike verklaring dat die lederaad en raadslede die naweek ’n gesamentlike werksessie gaan hou om “belangrike sake” te bespreek.

Daar word verneem dat die lederaad daarop gaan aandring om die veelbesproke forensiese verslag na KSA-bestuurspraktyke te besigtig sónder om ’n vertroulikheidsooreenkoms te onderteken.

Bowmans, KSA se prokureurs, dring tans daarop aan dat die lederaad só ’n ooreenkoms moet onderteken as hy die verslag wil sien.

Meer oor:  Ksa  |  Krieket Suid-Afrika  |  Saskok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.