Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kwiksilwer Quinny kolf Pakistan kis
Quinton de Kock vier sy honderdtal op die Wanderers. Foto: Gallo Images

Toe die laaste aflewering van Faheem Ashraf se 12de boulbeurt blitsvinnig terug verby die bouler skiet op pad grenstou toe, kon ’n mens uit Quinton de Kock se reaksie sien wat dié honderdtal vir die paaltjiewagter beteken.

Vir twee jaar, sedert Januarie 2017, moes De Kock wag om sy vierde toetshonderdtal vir Suid-Afrika aan te teken. Intussen was daar die frustrasie van twee tellings in die 90’s, van swak spelpeil, van sprake dat Heinrich Klaasen sy plek in die toetsspan bedreig, van die David Warner-trappe-onderonsie verlede jaar in Durban.

Toe De Kock Faheem Sondagmiddag vir ’n reguit-vier dryf, en die afwagtende Wanderers sy voete en stem eufories vind, het al daardie frustrasie uiting gevind.

De Kock se skitterende beurt van 129 (138 balle; 18x4, 6x1) op dag drie van die derde toets teen Pakistan, het die Proteas gehelp om ’n tweedebeurt-telling van 303 aan te teken. Die besoekers is sodoende die uiters uitdagende teiken van 381 gestel.

Hoewel Pakistan se beurt goed begin het met ’n vennootskap van 67 om die eerste paaltjie tussen Imam-ul-Haq (35, 65 b; 4x4) en Shan Masood (37, 66 b; 4x4), het twee paaltjies deur Dale Steyn (2/37 in 12 boulbeurte) dié span terug op die agtervoet geplaas.

Duanne Olivier (1/41 in agt bbe.) het nog ’n paaltjie platgetrek om Pakistan nader aan die planke te dwing.

Asad Shafiq (48*, 47; 8x4) en Babar Azam (17*, 21 b; 4x4) sal die besoekers se beurt Maandag op dag vier op 153/3 hervat. Dié duo het laat in die dag mooi teruggeveg deur positief te kolf en vinnig lopies aan te teken.

Pakistan is egter steeds 228 lopies kort van die teiken en die Proteas sal voel een of twee paaltjies sal ’n totale ineenstorting – en ’n skoonskip-reekssege – meebring.

De Kock en Hashim Amla (71, 144; 14x4) het die Proteas se oornagtelling Sondagoggend van 135/5 tot 195 gevoer. Hul vennootskap van 102 het slegs 130 balle in beslag geneem.

Nadat Amla uit is, het De Kock so te sê ’n alleenstryd gevoer om Suid-Afrika se voorsprong verby 350 te stoot.

Hy het skitterend saam met die stert gekolf en eers ’n vennootskap van 28 saam met Vernon Philander (14, 33 b) gedeel, en toe ’n vennootskap van 79 met Kagiso Rabada (21, 62 b) saamgeslaan.

De Kock het die skare trakteer met kragtige houespel. Veral net ná die middagete het hy die langsteel behoorlik ingelê en homself vinnig op 99 bevind.

Met dié senutergende syfer agter sy naam, het Faheem begin instoom vir sy 12de boulbeurt. De Kock het die eerste bal verdedigend gespeel en die tweede aflewering reg uit die middel van sy kolf terug verby die bouler geslaan.

Die opgewonde toeskouers was vas oortuig die bal is reguit op pad grenstou toe, maar toe kom De Kock se kolfmaat, Rabada, se groot bene in die pad.

De Kock moes nog drie senutergende aflewerings trotseer voordat hy in vreugde kon spring en sy kolf in waardering na sy spanmaats kon lig.

Dié beurt het uitstekend geïllustreer waarom dié 26-jarige so belangrik vir Suid-Afrika is.

Toe hy ingestap het, het Suid-Afrika 93 lopies op die telbord gehad – ’n voorsprong van slegs 170, met vyf paaltjies plat. Amla het boonop versigtig gekolf, so die lopies het nie juis gevloei nie.

De Kock het egter gespeel soos wat hy altyd speel – met instink, sonder kettings wat hom vashou of versmorende druk.

Hy het Suid-Afrika gehelp om ’n bykans onaanvegbare posisie in dié toets in te neem. In die proses het hy vir almal wat straks die laaste 24 maande vergeet het, herinner waarom hy met die legendariese Aussie-paaltjiewagter Adam Gilchrist vergelyk word.

Meer oor:  Dale Steyn  |  Hashim Amla  |  Quinton De Kock  |  Pakistan  |  Krieket  |  Wanderers  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.