
Grens toe! AB de Villiers het Essex se boulers Donderdagaand op Lord’s met minagting behandel. Foto: Getty Images
Minder as ’n week nadat die Wêreldbeker-kampioen op Lord’s gekroon is, het AB de Villiers – op dieselfde blad wat vir die eindstryd tussen Engeland en Nieu-Seeland gebruik is – gewys hoe baie hy vir die Proteas in dié toernooi kon beteken het.
Dié voormalige Protea-kaptein, wat onlangs vure doodgeslaan het oor berigte dat hy hom kort voor die WB-toernooi beskikbaar gestel het om in die skouspel in Engeland en Wallis diens te doen, het Donderdagaand ’n asembenemende beurt van 88* (van slegs 43 balle) vir Middlesex in Engeland se T20-liga (die Vitality Blast) gespeel.
De Villiers het luidens ’n berig op sport24.co.za voor ’n groot skare van 28 000 mense vyf viere en ses sesse gemoker en sy span gehelp om Essex maklik met sewe paaltjies te verslaan.
Die 35-jarige De Villiers het verlede jaar uit internasionale krieket getree, maar het hom skielik, tydens die WB-toernooi, in die kollig bevind toe berig is dat hy homself kort voor die aankondiging van die Proteas se WB-groep beskikbaar gestel het vir die toernooi.
Hy het egter onlangs in ’n verklaring meer lig hierop gewerp en gesê die storie is verdraai en dat hy ná sy uittrede gevra is of hy dit nog sou oorweeg om ’n terugkeer vir die WB-toernooi te maak.
“Ek is gevra, ek het nie aangebied nie,” het De Villiers hieroor gesê.
Hy sê hy het wel “ja” gesê en het toe vroeër vanjaar, tydens die IPL aan Faf du Plessis, die Protea-kaptein, gesê dat sy aanbod steeds staan. Hy is egter nie gekies nie.
Die 35-jarige De Villiers spesialiseer sedert sy uittrede in T20-toernooie oor die wêreld heen en is vir die eerste sewe wedstryde van Middlesex se veldtog beskikbaar. As hy die uitkloprondes haal, kan hy moontlik terugkeer.
– Sportredaksie

Wanneer AB de Villiers voor die penne is, is die kans goed dat daar vuurwerk gaan wees. Foto: Getty Images