SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Krieket
KYK: Indiese spelers ‘sal oor afgrond spring’

Australië se krieketspan speel nie die wêreld aan die brand nie, maar dit maak nie Indië se geskiedkundige reeksoorwinning Doer Onder van minder belang nie.

Indië het Maandag in Sydney geskiedenis gemaak deur die eerste keer ’n toetsreeks daar te beklink.

Virat Kohli (heel links) en sy spanmaats met die Border Gavaskar-trofee. Foto: Getty Images

Die besoekers het die reeks met 2-1 gewen nadat die vierde toets, op die SCG, weens reën onbeslis geëindig het.

Dié twee spanne was in die seisoen van 1947-’48 die eerste keer in ’n reeks in die Aussies se agterplaas slaags, met die tuisspan wat daardie reeks met 4-0 gewen het.

Indië het nou, 11 reekse later (met drie reekse wat tussenin gelykop geëindig het), uiteindelik die doodskoot toegedien.

Die Aussies se geringe kans om die vierde toets in Sydney te beklink en sodoende die reeks gelykop te laat eindig, is Maandag, op die laaste dag, deur reën in die wiele gery, met geen spel wat moontlik was nie.

Ons, ja óns, het die Aussies geklop! Virat Kohli se vreugde ken Maandag geen perke nie. Foto: Getty Images

Indië het ’n reusagtige 622/7 in sy eerste kolfbeurt aangeteken, waarna die Aussies vir 300 uitgeknikker is. Die tuisspan moes opvolg en het teen uitskeityd op die vierde dag 6/0 op die telbord gehad.

Indië, wat die voorste toetsspan ter wêreld is, het nie ’n maklike 2018 gehad nie. Hy het immers toetsreekse teen Suid-Afrika én Engeland verloor.

“In die 10 jaar wat ek speel, is hierdie die trotsste oomblik wat ek nog ervaar het,” sê Virat Kohli, Indië se kaptein.

“Uit die aard van die saak is dit ’n ongelooflike gebeurtenis. Veral in ag genome die laaste 12 maande en wat ons as ’n span moes deurmaak.

“Die feit dat die beloning in ’n geskiedkundige reeks soos hierdie gekom het, is die kersie op die koek.”

Ná die reeksoorwinning beteken dit dat Suid-Afrika die enigste toetsspelende land is waar Indië nog nie ’n reeks kon beklink nie.

Ravi Shastri, afrigter van Indië, was vol lof vir sy troepe.

“Hierdie is ’n Indiese span wat oor die afgrond sal spring om ’n wedstryd vir hul land te beklink. Dit is die deursettingsvermoë en meedoënloosheid waarmee die span in die reeks gespeel het.

Virat Kohli en sy eweknie Tim Paine van Australië skud blad nadat die vierde toets Maandag onbeslis geëindig het. Foto: Getty Images

“Die span het nou die identiteit om enige Indiese span van die verlede in die oë te kyk sonder om geïntimideer te word en te sê: ‘Ons speel ordentlike toetskrieket. Julle het, en ons doen ook’,” sê Shastri.

Dis te verstane dat Tim Paine, Australië se kaptein, nie agterna te veel kwytgeraak het nie.

“Ek het gedink ons het ons kanse gehad om die toets in Adelaide te wen, maar Indië het ons in die belangrike oomblikke van daardie toets ore aangesit.

“In Perth het ons baie goed gespeel, maar in Melbourne en Sydney is ons in alle fasette van die spel ore aangesit,” sê Paine.

Dalk het ene George Kokkoris se opmerking op Krieket Australië se Facebook-blad die skok van die nederlaag uit ’n Australiese oogpunt die beste saamgevat: “My grootste teleurstelling was ons spelers se gebrek aan veggees.” – Sportredaksie, Reuters

Meer oor:  Virat Kohli  |  Indië  |  Toetskrieket  |  Tim Paine  |  Kriekettoets  |  Sydney  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.