Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KYK: Kallis, AB haal Donald se ‘droomspan’

Die voormalige Proteas Jacques Kallis en AB de Villiers is albei deur ’n gewese Suid-Afrikaanse krieketheld, die snelbouler Allan Donald, in sy beste span van alle tye ingesluit.

Jacques Kallis in sy laaste toets in 2013 teen Indië in Durban. Foto: Getty Images

Donald (51), wat 330 paaltjies vir die Proteas in 72 toetse tussen 1992 en 2002 platgetrek het, het sy span op Lord’s Krieket se YouTube-kanaal bekend gemaak.

Die kriteria was dat hy saam met die spelers moes gespeel het, of sterk deur hulle beïnvloed moes gewees het.

Kallis het 13 289 lopies in 166 toetse aangeteken en boonop 292 paaltjies platgetrek. Donald beskou hom as “waarskynlik die grootste krieketspeler van alle tye”.

AB de Villiers in 2018 in aksie teen Australië in Johannesburg. Foto: Getty Images

De Villiers het 8 765 lopies in 114 toetse teen ’n gemiddeld van 50.66 aangeteken.

Allan Donald in sy speeldae. Foto: Getty Images

Donald het ander legendes van die spel soos die kolwer Brian Lara (Wes-Indiese Eilande) en twee Aussies, die snelbouler Glenn McGrath en die draaibalbouler Shane Warne, ook in sy span ingesluit.

Geen speler van Indië of Pakistan het Donald se span gehaal nie. Dis veral interessant dat die Indiese maestro – soos wat Sachin Tendulkar in sy speeldae bekend gestaan het – oor die hoof gesien is. Hy en Donald het etlike groot tweestryde op die krieketveld gehad.

Tendulkar se 15 921 lopies in die toetskrieket is die meeste tot nog toe deur ’n speler.

Donald is tans boulafrigter by die Engelse graafskapspan Kent.

Donald se span: Matthew Hayden (Australië), Justin Langer (Australië), Jacques Kallis (Suid-Afrika), Brian Lara (Wes-Indiese Eilande), Viv Richards (Windies, kaptein), AB de Villiers (Suid-Afrika), Adam Gilchrist (Australië, paaltjiewagter), Shane Warne (Australië), Malcolm Marshall (Windies), Curtly Ambrose (Windies), Glenn McGrath (Australië). – Sport24, Sportredaksie


Meer oor:  Allan Donald  |  Droomspan  |  Toetskrieket  |  Ab De Villiers  |  Proteas  |  Jacques Kallis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.