Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KYK: Kaptein Dean los groot knoop

Op die oomblik is daar beswaarlik ’n Suid-Afrikaanse kolwer sagter op die oog as Aiden Markram op sy beste.

Aiden Markram speel ’n dryfhou op pad na sy vyftigtal. Foto: Gallo Images

Ná ’n moeilike begin in die oggendsessie van die eerste dag van die derde toets teen Pakistan op die Wanderers, het Markram die Proteas met ’n vinnige vyftigtal Vrydag gehelp om middagete op 108/1 te bereik. Dié lopies is, grootliks danksy Markram, teen ’n puik lopietempo van om en by vier lopies per beurt aangeteken.

Markram (78* van slegs 101 balle; 14x4) is wel vroeg ’n lewe gegun, toe hy, met sy telling op twee, ’n skerp aflewering van Mohammad Amir (0/17 in sewe boulbeurte) hard na Shan Masood in die slagysterposisie geslaan het.

Die bal het so vinnig getrek, dat dit ietwat onregverdig sou wees om dit as ’n verbroude kans te bestempel.

Dié aanvangskolwer moes nietemin saam met Hashim Amla (22*, 61, 2x4) laer trek nadat die instaan-kaptein, Dean Elgar (5), reeds in die tweede beurt terug kleedkamer toe is. Dít nadat Elgar die loot gewen het en besluit het om eerste te kolf.

Hy het buiterand bygekry ná ’n aflewering van Mohammad Abbas (1/25).

Elgar het vir Twitter-konsternasie gesorg. Opsigtelik teleurgesteld met sy kort beurt, het hy met die woord “f*k” uiting aan sy emosies gegee op pad terug na sy spanmaats.

Die probleem was dat die SuperSport-kameras dié luide knoop in al sy glorie regstreeks op televisie uitgesaai het. Verskeie Twitter-gebruikers het Elgar hieroor geroskam.

Met Elgar terug in die kleedkamer, het Markram met ’n paar uitsonderlike houe vorendag gekom om die Proteas teen middagete in ’n goeie posisie te kry.

Die 24-jarige Markram het reg oor die veld lopies aangeteken. Veral twee trekhoue het die karige Wanderers-skare gaande gehad, terwyl sy sierlike dryfhoue deur die dekke iets besonders is.

Hy geniet dit ook om lopies tru van punt met láát dryfhoue van die agtervoet aan te teken. Sy dryhoue deur middebaan is ook ’n lus vir die oog.

Pakistan se boulwerk op ’n goeie kolfstrook het wel met tye veel te wense oorgelaat. Die besoekers het aanvanklik goeie druk opgebou, maar te veel swak aflewerings was kanonvoer vir Markram.

Hy sal ná die middagete hoop om sy vyfde toetsvyftigtal in sy vyfde toetshonderdtal om te skakel.

Sy vennootskap met Amla is reeds 102 lopies werd.

Zubayr Hamza se insluiting in Faf du Plessis se plek, is die enigste verandering aan die elftal wat die reeks in Kaapstad beklink het. Hamza word dus Protea nr. 100.

Telkaart.

Meer oor:  Toetskrieket  |  Wanderers  |  Dean Elgar  |  Proteas  |  Aiden Markram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.