Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KYK: Kohli gekap vir uitlatings
Virat Kohli is berug daarvoor dat hy onder teenstanders se velle inklim. Foto: Getty Images

Die Indiese superster Virat Kohli het Donderdag ’n herrie op sosiale media veroorsaak toe hy ’n plaaslike krieketaanhanger aangeraai het om na ’n ander land te verhuis omdat dié verkies om na Australiese en Engelse kolwers te kyk.

Kohli het twiets gelees toe hy op een afkom wat die 30-jarige kaptein, tans boaan die ranglys vir toetskolwers, as “oorskat” beskryf. Die twiet het verder gesê dat dit meer plesier verskaf om na Australiese en Engelse kolwers te kyk as “hierdie Indiërs”.

Kohli, met 27,1 miljoen Twitter-volgelinge, het in ’n video teruggekap: “Dan dink ek nie jy moet in Indië woon nie.

“Weet jy, jy moet iewers anders gaan bly. Hoekom woon jy in ons land, maar is lief vir ander lande?

“Ek gee nie om dat jy nie van my hou nie, maar ek dink nie jy moet in ons land bly nie. Kry jou prioriteite reg.”

Kohli se uitlatings het skerp reaksie ontlok, met mense wat hom herinner het aan ’n video in 2008 waarin hy as kaptein van Indië se o.19-span, verklaar het Suid-Afrika se Herschelle Gibbs is sy gunsteling-kolwer.

Daar is ook verwys na sy twiet in 2016 waar hy Angelique Kerber gelukgewens het met haar Australiese Ope-titel en gesê het die Duitser is sy gunsteling-vrouetennisspeler.

“Virat Kohli se uitlatings werp lig op die borrel waarin die meeste bekende persoonlikhede hulself bevind,” sê die krieketkommentator Harsha Bhogle.

“Die stemme binne die borrel is meestal dié wat hulle graag wil hoor. Dit is ’n gemaklike borrel en dis waarom bekende persoonlikhede hard moet probeer dat dit nie ontwikkel nie.”

Kohli, getroud met die Bollywood-aktrise Anushka Sharma, is die grootste naam in Indiese krieket en sy gesig pryk op reusereklameborde regoor ’n land met 1,3 miljard inwoners.

Hy is berug daarvoor dat hy onder teenstanders se velle inklim en is die enigste Indiër op Forbes se lys van die wêreld se beste betaalde sportlui vir 2018.

Sy naam is gekoppel aan handelsmerke soos Puma, Audi, Tissot en Uber.

Een kritikus het ’n foto gedeel waar Kohli langs ’n Audi poseer en voorgestel hy trek na Duitsland omdat hy mal was oor oorsese motors.

Hy is ook deur lede van die vermaaklikheidswêreld gekap.

“Wat ’n idiotiese klomp woorde deur ’n Indiese kaptein!” sê die akteur Siddharth.

– Reuters

Meer oor:  Virat Kohli  |  T20  |  Toetskrieket  |  Eendagkrieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.