Die Australiese kolwer Steve Smith ontken dat hy Maandag, op ’n spannende laaste dag van die derde toets teen Indië – Rishabh Pant se kolfmerkie voor die penne met sy stewel probeer doodkrap het.

Steve Smith op die vyfde en laaste dag van die kriekettoets tussen Australië en Indië in Sydney in aksie. Foto: Getty Images
Videomateriaal van die paaltjiekamera, wat wys hoe Smith se stewel doenig is in die kolfkampie, het soos ’n veldbrand versprei op sosiale media en sommige oudspelers het hom van onsportiwiteit beskuldig, terwyl ander reguit sê hy het probeer kul.
Smith het in ’n onderhoud met News Corp ontken dat hy enigiets verkeerds gedoen het en sê dat hy bloot die middelpen-merkie duideliker gemaak het, soos wat hy altyd in wedstryde doen. Hy sê ook hy is “geskok en teleurgesteld” dat daar daarop gesinspeel word dat hy op ’n skelm wyse ’n onregverdige voordeel vir sy span probeer bekom het.
Smith is juis in 2018 van die Australiese kapteinskap gestroop en vir ’n jaar lank geskors vir sy aandeel in die berugte balpeuteryskandaal op Nuweland in ’n toets teen Suid-Afrika. Sedertdien het hy hard gewerk om vergifnis van die krieketpubliek te kry en het sy skitterende kolfwerk hom in ’n groot mate weer in kritici se goeie boekies gekry.
Smith het daarom in sy onderhoud met News Corp sy bes gedoen om vure dood te slaan.
“Dit (die gebruik om wanneer hy veldwerk doen tussen boulbeurte voor die penne stelling in te neem) is iets wat ek in wedstryde doen om te visualiseer hoe die kolwer teen ons boulers speel en in watter areas ons boulers die bal plant. Uit gewoonte maak ek dan altyd die middelpenmerkie duideliker met my stewel,” verduidelik Smith.
“Dis ’n groot jammerte dat dié voorval die glans moet wegneem van ’n uitstekende kolfvertoning deur Indië,” het Smith bygevoeg.
Tim Paine, Australië se kaptein, het ook vir Smith in die bresse getree en sê as jy hom al hoegenaamd in toetskrieket dopgehou het, is dit iets wat hy “vyf tot ses keer per dag” doen.
“Hy staan altyd in die kolfkampie en skadukolf. Soos ons weet, het hy baie gewoontetjies en om die middelpenmerkie duideliker te maak, is een van hulle. Dit was beslis nie ’n poging om Pant se kolfmerkie dood te krap of te verander nie. Ek is seker as dít die geval was, sou die Indiërs dadelik luidkeels protes aangeteken het.”
Pant se heldhaftige beurt van 97 lopies het Indië gehelp om ’n onbesliste uitslag in Sydney af te dwing en die reekstelling op 1 – 1 te hou. Die laaste toets in Brisbane begin Vrydag. – Reuters