Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KYK: Warner vol emosie ná hy topprys ontvang

Die trane het vlak gelê toe die omstrede David Warner Maandagaand die Allan Border-medalje as Australië se beste krieketspeler ontvang.

Cricket.com.au berig die vurige aanvangskolwer het die voormalige kaptein Steve Smith, wat ook vir ’n jaar geskors is weens die “Sandpapergate”-balpeuterskandaal in Kaapstad in 2018, met een stem geklop by ’n seremonie in Melbourne.

David Warner raak emosioneel tydens sy toespraak. Foto: Getty Images

Warner het by die Wêreldbekertoernooi 647 lopies gemoker teen ’n gemiddeld van 71.88 en 786 teen 131 in vyf toetse in die plaaslike somer, maar erken hy was oortuig sy 95 lopies in tien beurte in die reeks om die As het sy kans om ’n derde medalje kasty.

“Ek het ’n absolute aaklige reeks om die As beleef, ek het werklik nie gedink ek staan ’n kans nie,” sê die 33-jarige hotklou, wat ook in 2016 en 2017 met die prys vereer is.

“Ek is net uiters dankbaar om weer aanvaarding te vind by Krieket Australië, my medespelers en die aanhangers.”

Warner se stem het opmerklik gebreek toe hy oor sy familie en sy vrou, Candice, praat.

“Uit die aard van die saak is daar baie dankies – ek gaan baie mense per ongeluk oor die hoof sien – maar dankie eerste en belangrikste aan my ma en pa.

“Ek besef ek het julle in die verlede teleurgestel, maar julle het altyd aan my sy gebly en ek waardeer dit opreg. En my broer.”

Warner was naby aan trane toe hy na Candice as sy “rots” verwys.

“Jy is absoluut ongelooflik. Ek weet nie wat jou ooit kan breek nie. Jy is ’n inspirasie, nie net vir my nie, maar vir ons twee dogtertjies.

“Dit is moeilik vir ’n man om hier bo te staan en ’n klomp vleiende woorde oor mense te sê, maar jy bring altyd die beste in my uit.”

’n Jaar gelede was Warner en Smith (30) nog die swartskape van Aussie-krieket vir hul aandeel in die balpeutery in die derde toets teen die Proteas op Nuweland. Maar Maandagaand was alles skynbaar vergewe toe Warner, met 194 stemme, Smith en verlede jaar se wenner, Pat Cummins (185 stemme), om die Allan Border-medalje klop.

Warner, voormalige onderkaptein van die toetsspan en T20-kaptein, word steeds verbied om enige leierskaprol op die internasionale verhoog te hou, maar is deel van die span wat later vandeesmaand na Suid-Afrika toer.

“Ek hoef nie weg te kruip van die feit dat dit nie aangenaam gaan wees nie,” sê Warner oor sy terugkeer na die plek van Aussie-krieket se grootste skande.

“Ons is altyd voorbereid op ’n bietjie uitjouery hier en daar. Maar ons sal fokus op ons werk en soveel moontlik lopies vir ons span aanteken. Ons sal ’n glimlag dra, op die veld stap en ons land verteenwoordig.”

Die vroueprys, die Belinda Clark-medalje, is deur die Wêreldspeler van die Jaar, Ellyse Perry, verower. Dit was ook haar derde keer dat sy die prys ontvang.

– Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  David Warner  |  Toetskrieket  |  Eendagkrieket  |  Steve Smith  |  Balpeutery  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.