Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Kyle kook met ’n rekord van 17 paaltjies

Die voormalige Protea-snelbouler Kyle Abbott het met ’n allemintige 17 paaltjies geskitter in Hampshire se sege Woensdag oor die voorloperspan van Somerset, wat die beste boulsyfers van sy loopbaan – 9/40 – in die besoekers se eerste beurt ingesluit het.

Somerset is, met die Suid-Afrikaanse Kolpak-speler aan die spits, vir net 142 en 144 in sy kolfbeurte op Southampton uitgeknikker.

Hampshire het met 136 lopies geseëvier nadat hy vroeër 196 en 226 in sy twee kolfbeurte aangeteken het.

Kyle Abbott erken die applous van die skare nadat hy 9/40 – sy beste nog – vir Hampshire in Somerset se eerste beurt in Southampton laat kantel het. Foto: Getty Images

Abbott het met verstommende wedstrydsyfers van 17/86 geëindig nadat hy 8/46 in Somerset se tweede beurt platgetrek het.

Dit is volgens @WisdenCricket die beste eersterangse boulsyfers in 63 jaar sedert die 19/90 deur Engeland se draaier Jim Laker in die vierde toets teen Australië in 1956 in Manchester.

Volgens espncricinfo.com was Abbott se ontleding die vierde beste in die geskiedenis van graafskapkrieket.

Sy ontleding in Somerset se eerste beurt was die tweede beste eersterangse boulsyfers nog deur ’n bouler van die Hampshire, ná die 9/38 wat die Windie Cardigan Connor in 1996 teen Gloucestershire vermag het.

Die 32-jarige Abbott het 11 toetse vir Suid-Afrika gespeel voor hy hom in 2017 as Kolpak-speler by Hampshire aangesluit het.

Sy vorige beste boulsyfers was die 8/45 vir die Dolphins teen Cape Cobras in 2013 op Nuweland.

Abbott het met die kolf ook sy kant in die wedstryd gebring toe Hampshire in sy tweede beurt op 45/6 ook in die moeilikheid was.

Die kaptein, James Vince, se 142 en Abbott se 25 het die tuisspan volgens espncricinfo.com tot by 226 geneem.

Dit het Somerset ’n teiken van 281 lopies gestel om te wen.

Abbott het die eerste twee paaltjies in Somerset se tweede beurt in agtereenvolgende beurte laat kantel, wat die begin van ’n ineenstorting van 86/0 tot 100/7 was.

Abbott se 68 paaltjies is nou die tweede meeste in vanjaar se meerdagreeks in Engeland.

Die voorloper met 78 paaltjies is Essex se draaier Simon Harmer, ook ’n Suid-Afrikaanse Kolpak-speler, wat Woensdag met 7/58 in Surrey se tweede beurt uitgeblink het.

Essex het met sy sege van 40 lopies Somerset verbygesteek aan die voorpunt van die meerdagreeks.

Meer oor:  Rekord  |  Kyle Abbott  |  Hampshire  |  Somerset
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.