Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Laaste lid van droomtal gou terug
Temba Bavuma en Quinton de Kock het in ’n giftige aanvangspaar in witbalkrieket ontwikkel. Foto: Gallo Images

Terwyl drie lede van ’n moontlike Protea-droomtopvier vir die T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) tans by die Indiese Premierliga (IPL) skitter, maak die vierde lid volgende week sy terugkeer tot die speelveld in die langer formaat van die spel.

Temba Bavuma sal van Maandag af vir die Lions teen die Dolphins in Durban speel wanneer die plaaslike seisoen oplaas met die meerdagreeks afskop.

Bavuma het vroeër vanjaar in die eendagreeks teen Engeland en die T20-reeks teen Australië gewys hoe waardevol hy as witbal-aanvangsmaat vir Quinton de Kock kan wees. Dié twee het Suid-Afrika gehelp om blitsig uit die blokke te wees.

Temba Bavuma het in Julie laas krieket gespeel – in die driespanwedstryd in Centurion. Foto: Gallo Images

Dis veral Bavuma se vermoë om die slag te wissel, enkellopies in twees te omskep, en leë aflewerings tot die minimum te beperk, wat hom so waardevol in T20-krieket maak. Moet ook nie dink hy kan nie die grenstou vind as hy moet nie.

Hy en De Kock kan die aanvangspaar by volgende jaar se T20-WB in Oktober in Indië wees, met Faf du Plessis op nr. 3 en AB de Villiers op nr. 4.

De Kock (agtste), Du Plessis (vierde) en De Villiers (15de) tel al drie onder die voorste 15 lopiemakers in die huidige IPL in die Verenigde Arabiese Emirate. Hulle het elk reeds ’n hele paar wedstryde agter die blad, terwyl Bavuma volgende week vir die eerste keer sedert die driespan-wedstryd in Julie ’n terugkeer tot die speelveld sal maak.

Hy is opgewonde om ná só ’n lang ruk langs die grenstou weens die Covid-19-pandemie, weer krieket te speel.

“Met die bepalings (vir die plaaslike seisoen) nou afgehandel, kan ons begin fokus op wat ons moet doen. As spelers haat ons onsekerheid en dit is wat ons oor die laaste ruk gehad het,” sê Bavuma.

“Nou is die weg oop vir ons om ’n positiewe ingesteldheid in te neem en seker te maak ons fokus al ons energie op die eerste wedstryd volgende week.”

Nou is die weg oop vir ons om ’n positiewe ingesteldheid in te neem en seker te maak ons fokus al ons energie op die eerste wedstryd volgende week.
Temba Bavuma

Die ses franchise-spanne sal vanjaar in twee groepe verdeel word, met ’n dubbele ronde van wedstryde teen die ander spanne in hul groep, en een wedstryd teen elke span in die ander groep. Die twee spanne wat boaan hul groepe eindig, sal in die eindstryd speel.

Die Lions is die verdedigende kampioen en was in 2019 ook die wenners.

Bavuma sal ook al begin dink aan die witbalreeks teen Engeland, wat op 27 November begin. Die Engelse kom Suid-Afrika toe vir drie T20- en drie eendagwedstryde.

De Kock en Du Plessis behoort ook vir daardie reeks beskikbaar te wees. De Villiers sal eers weer moontlik volgende jaar vir Suid-Afrika speel.

• In die ander wedstryde wat Maandag begin, speel die Knights teen die Warriors in Bloemfontein en die Cape Cobras teen die Titans in Kaapstad.

Meer oor:  Quinton De Kock  |  Temba Bavuma  |  Faf Du Plessis  |  Engeland  |  Suid-Afrika  |  Krieket  |  Besering  |  Reeks  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.