Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Wag liefs voordat julle Ottis ophang

Ottis Gibson staan voor ’n vuurpeloton.

Moet Krieket Suid-Afrika (KSA) die sneller trek en die gebore Barbadaan se termyn as Protea-afrigter summier beëindig?

Ná ’n (vul jou eie negatiewe byvoeglike naamwoord hier in, al myne is opgebruik) Wêreldbeker (WB)-veldtog, is die versoeking groot om eenvoudig ja! te antwoord. Maar wag eers . . .

Gaaf, dit is nie uitsluitlik die WB-toernooi wat as ammunisie teen Gibson gebruik kan word nie. Hy is die eerste Protea-afrigter wat ’n tuistoetsreeks teen ’n Asiese span verloor het.

Tinus van Staden

Dít boonop teen een van die powerste spanne wat nog na Suid-Afrika getoer het – die Sri Lankaanse klas van 2019.

Gibson se obsessie om toetskolfblaaie in Suid-Afrika voor te berei wat sy boulers buitensporig bevoordeel, is ook ongesond.

’n Mens kan die versoeking verstaan om die skerpste pyl in jou koker – jou snelboulers – met die beste moontlike boog – giftige kolfblaaie – te wil skiet. Maar enigiets met ’n “te” is nie goed nie.

Al die bogenoemde sal teen Gibson tel wanneer hy en KSA vergader oor ’n verlenging van sy kontrak, wat in September verstryk. Thabang Moroe, KSA se uitvoerende hoof, het vroeër vanjaar rondgespring oor presies wat van Gibson by die WB verwag word. Maar om sewende te eindig sou nooit voldoende wees nie.

Tog kan dit in KSA se beste belang wees om Gibson te spaar, minstens tot die T20-WB-toernooi in Oktober en November 2020 in Australië.

Nie net het hy ook ’n paar dinge reg gedoen nie, maar die kruks is eenvoudig dat daar nie op die oomblik iemand is wat die deur afskop om by hom oor te neem nie.

As ’n bewese internasionale afrigter, iemand soos Gary Kirsten of Mickey Arthur, skielik onverwags belangstelling toon om die gifbeker by Gibson oor te neem, kan KSA dit uiteraard ernstig oorweeg.

Maar terwyl Mark Boucher en Enoch Nkwe, twee van die name wat skielik in opvolger-gesprekke opduik, skitterende jong afrigters is, is hulle waarskynlik nog te groen.

Ottis Gibson, die Proteas se hoofafrigter. Foto: Gallo Images

Wat sal dit hulle baat om ’n span met min selfvertroue oor te neem net voor ’n drie-toets-toer na Indië? Dit is ’n selfmoordsending. Verwag gerus blaaie so stowwerig soos ’n Kalahari-grondpad nadat ons Indië verlede jaar gevra het om op bitsige mambas te kolf.

Gibson se prestasies, soos die tuistoetsreeks-sege verlede jaar teen die Aussies, moet ook in berekening gebring word.

Onder sy leierskap het onder meer Lungi Ngidi na vore getree en Kagiso Rabada tot die beste bouler ter wêreld uitgestyg.

Hy was nie bang om verskeie spelers kanse te gee nie, wat gelei het tot Aiden Markram se prestasie op die toetsverhoog en Rassie van der Dussen se skitterspel in die eendagarena.

Die versoeking is groot om Gibson te pos. Maar ’n kalm, nugter krieketbesluit moet geneem word.

Gibson en Faf du Plessis, die kaptein, het boonop ’n puik verhouding. Du Plessis wil hê Gibson moet voortgaan tot minstens die T20-WB.

Daar moet beslis veranderinge in Suid-Afrikaanse krieket kom. Maar om nou na die eerste beste nuwe hoofafrigter te gryp, kan hom en die Proteas albei skade berokken.

Die beste alternatief sal wees om nou reeds ’n kandidaat te identifiseer wat ná die T20-WB by Gibson kan oorneem – dalk Boucher of Nkwe – en hom reeds by die afrigtingspan te betrek.

Die volgende WB is in 2023 in Indië, so die volgende afrigter sal baie baat vind daarby om die T20- en toetsreeks nou in Indië mee te maak, asook die reeks van drie eendagwedstryde daar aanstaande jaar in Maart. Dan kan hy leer, weg van die fel kollig wat steeds op Gibson sal skyn.

Die versoeking is groot om Gibson te pos. Maar ’n kalm, nugter krieketbesluit moet geneem word.

Een wat geneem is nadat elke opsie opgeweeg en die saak goed van alle kante bekyk is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.