Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
'Lutho was by diepkant ingegooi'
Charl Langeveldt, die Proteas se boulafrigter. Foto: Gallo Images

Charl Langeveldt het vir Lutho Sipamla in die bres getree nadat dié jong bouler Dinsdagaand by die diepkant ingegooi is in die derde T20-wedstryd teen Engeland op Nuweland.

Sipamla (22) is vir ’n allemintige 45 lopies getimmer in net 2.4 boulbeurte, sonder om ’n paaltjie plat te trek. Hy is gekies nadat Kagiso Rabada hom weens ’n besering moes onttrek.

“Dit was baie gevra van Lutho,” sê Langeveldt, die Protea-boulafrigter.

Lutho Sipamla se aflewerings is Dinsdagaand na alle uithoeke van Nuweland deur die Engelse kolwers gemoker. Foto: Gallo Images

“Hy het laas in Potchefstroom (teen Australië in Maart) gespeel, hy het nie in die vierdagreeks of enige ander mededingende krieket gespeel nie.

“Dit sou altyd ’n uitdaging wees, veral teen ’n topspan soos Engeland en ons het geweet hulle gaan hom teiken.

“Jy moet maar met hom praat en sy spel ontleed. Ons het probeer om hom so goed as moontlik voor te berei, maar in die wedstryd is dit moeilik as jy onder druk geplaas word.”

Sipamla was nie die enigste bouler wat in die T20-reeks gesukkel het nie. Langeveldt sê hulle benodig wedstrydfiksheid in witbalkrieket.

“Baie van die ouens het vierdagkrieket gespeel, so hulle het geboul. Hulle het wel nie baie T20-boulwerk gedoen nie, want weens die Covid-19-pandemie kon ons nie ons opwarmwedstryde speel nie,” sê hy.

Jy kan so veel oefen as wat jy wil in die nette, maar die intensiteit in ’n wedstryd is iets heeltemal anders.
Charl Langeveldt

“Dit gaan eenvoudig oor wedstrydfiksheid in die verskillende formate. T20 is baie anders as vierdagkrieket. Tog is ons almal professionele sportmense en ons probeer die proses bespoedig, maar dit was sleg dat ons nie die losmakers kon speel nie.

“Dit kom neer op akkurate uitvoering, veral as jy onder druk is. Jy kan so veel oefen as wat jy wil in die nette, maar die intensiteit in ’n wedstryd is iets heeltemal anders.”

Langeveldt sê die boulkombinasies in eendagkrieket is meer gevestig as in T20-krieket, wat Protea-ondersteuners effens sal paai voor die eendagreeks Vrydag in Kaapstad begin.

“Daar is ook ’n tekort aan ervaring in T20-krieket. T20-krieket het ook meer druksituasies. Eendagkrieket is steeds krieket van hoë intensiteit, maar dit is oor ’n langer tydperk.

“Kolwers neem meer tyd om hulself in te grawe, wat die boulers dan ook ’n kans gee om in ’n ritme te kom en aan die blad gewoond te raak.”

Meer oor:  Krieket  |  T20  |  Charl Langeveldt  |  Lutho Sipamla  |  Proteas  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.