Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Last goodbye’ tot ‘Never really over’ vir Aussies

Die laaste keer wat Australië se krieketspan op die Wanderers geoefen het, het die liedjie “The carnival is over” van die Aussie-groep The Seekers oor die luidsprekers gedreun.

Steve Smith is vir die eerste keer sedert die balpeuterskandaal terug in Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Dit was 23 maande gelede, op 29 Maart 2018. Enkele dae nadat die balpeuterskandaal wêreldkrieket soos ’n mortier getref het. Die lirieke “This will be our last goodbye,” het morbied oor die veld weergalm kort nadat hul breier, Darren Lehmann, op sy swaard geval het.

Die skuurpapier-bende, Steve Smith, Cameron Bancroft en David Warner, het nie saam met hul spanmaats vir die vierde toets geslyp nie. Hulle is huis toe gestuur nadat hulle met die bal gepeuter het in die derde toets in Kaapstad.

Maandag het dit soos ’n leeftyd gelede gevoel. Smith en Warner was daar. Energiek soos kinders met te veel spookasem in die lyf tydens hul oefening voor die eerste van drie T20-wedstryde teen Suid-Afrika Vrydag in Johannesburg.

Ons wou Australiërs weer trots maak en die respek terugwen van die publiek, voormalige spelers en mense wêreldwyd. Hopelik het ons dit die laaste paar maande gewys.
Justin Langer

Hul skorsings van ’n jaar is lank reeds uitgedien.

Die liedjies wat Maandag tydens die oefening gespeel het, het jou dié keer aan ’n nagklub herinner. Dis heel gepas, want die Aussies geniet dit eintlik om na Suid-Afrika te toer, sê die nuwe afrigter, Justin Langer.

“Daar was vir so lank soveel lekker herinneringe hier. Die laaste toer was uiteraard taai, maar dit het ons ’n kans gegee om Aussie-krieket in heroënskou te neem,” het Langer ná hul oefensessie gesê.

“Ons wou Australiërs weer trots maak en die respek terugwen van die publiek, voormalige spelers en mense wêreldwyd. Hopelik het ons dit die laaste paar maande gewys.”

Ná hul terugkeer was Warner en Smith albei briljant, maar hulle weet hulle gaan deur die Suid-Afrikaanse toeskouers uitgejou word.

“Ons het verlede jaar ’n goeie kleedrepetisie in Engeland gehad (tydens die Wêreldbeker-toernooi en die reeks om die As). Dit was ’n taai toer vir daardie twee ouens, maar hulle het hul kolwe die praatwerk laat doen.”

David Warner met die Allan Border-medalje wat vir Australië se Speler van die Jaar gegee word. Foto: Getty Images

Aaron Finch, Australië se eendag- en T20-kaptein, is dit met Langer eens. Veral Warner gedy wanneer toeskouers met woordspeletjies begin.

“Suid-Afrikaanse ondersteuners is baie passievol. Dit gaan wel nie ’n verskil maak nie, ons sal krieket met ’n glimlag op ons gesig speel,” sê Finch.

Terwyl die Aussies Maandag in die Hoëveldse son gesweet het, het popliedjies deur hul luidspreker geblêr. Kygo en Whitney Houston se “Higher love”, “Stay awake” van Dean Lewis.

Die Jonas Brothers se “Only Human”, ironies genoeg terwyl Smith ’n amper bomenslike vangkans tydens hul veldwerkoefening benut het.

Toe hulle laas hier was het dit soos die begrafnis van Aussie-krieket gevoel. Maandag het Katy Perry se “Never really over” jou herinner dis nooit regtig verby nie – ’n krieketspan kan altyd weer die spits bereik.

Terwyl die Aussies Maandag van die veld stap, maak Finch leë waterbottels bymekaar en gooi dit in ’n asblik. Een vir een draf hulle die trappies in die tonneltjie op na hul kleedkamer. Net een speler bly op die veld.

’n Hulpafrigter slaan balle vir Smith, wat met sy lang arms sy vangwerk op die diepby- en diepweg-grens slyp – 23 maande gelede het hy op die Sydney-lughawe in trane uitgebars terwyl hy herhaaldelik om verskoning gevra het vir sy krieket-misdaad. Sedertdien het hy die Engelse laat huil met 774 lopies in verlede jaar se reeks om die As.

Post Malone se “Circles” speel net vir hom terwyl hy balle op die grens vang. Smith is terug in die land waar sy krieketloopbaan so byna verongeluk het. Nou is hy ’n nuwe mens. Die kringloop is voltooi.

Hy draf van die veld af. Oor die luidsprekers dreun ’n liedjie van Lizzo, “Good as hell”. Jy kan maar weet Smith wil vir die Suid-Afrikaanse publiek wys hoe goed hy regtig is. Dié keer sonder skuurpapier.

Meer oor:  Justin Langer  |  Aaron Finch  |  Australië  |  Proteas  |  Krieket  |  T20
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.