Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Lizelle Lee se selfvertroue terug
Suid-Afrika se Lizelle Lee speel ’n dryfhou so reg uit die handleiding onderweg na haar skitterende honderdtal teen Thailand in die T20-Wêreldbekertoernooi in Australië. Foto: Getty Images

Lizelle Lee het nie net Vrydag die grondslag vir die Protea-vroue se klinkende oorwinning in hul T20-Wêreldbekerstryd teen Thailand gelê nie, sy het haar kwynende selfvertroue ook ’n tydige inspuiting gegee.

Dié aanvangskolwer (101, 60 balle, 16x4;3x6) het die Proteas gehelp om Thailand met 113 lopies in Canberra, Australië, af te ransel.

Suid-Afrika het eerste gekolf en 195/3 in sy 20 boulbeurte aangeteken, waarna Thailand vir net 82 lopies in 19.1 boulbeurte uitgeknikker is.

Die Proteas se telling is die nuwe hoogste telling in ’n wedstryd in die T20-WB. Die vorige hoogste was Indië se 194/5 teen Nieu-Seeland in 2018 in die Karibiese Eilande.

Dinge het nie te goed vir my verloop sedert ons toer in Nieu-Seeland nie. So dit was goed om ’n paar lopies op die telbord te kry.
Lizelle Lee

“Dinge het nie te goed vir my verloop sedert ons toer in Nieu-Seeland nie. So dit was goed om ’n paar lopies op die telbord te kry om my selfvertroue weer reg te kry.

“Ek en Suné (Luus, 61* van 41 b) was nie op ons beste in die kragspel nie en was ’n paar lopies agter ons mikpunt. Ons het toe besluit ons wil teen die 13de boulbeurt 100 op die telbord hê. Ons het by die plan gehou en toe ons daar uitgekom het, het ons die tempo versnel,” sê Lee.

Dié twee het uiteindelik 131 lopies om die tweede paaltjie aangeteken.

Dit was Lee se eerste honderdtal in dié formaat.

Sy is slegs die tweede Suid-Afrikaner wat ’n T20-honderdtal kon aanteken nadat Shandré Fritz 116* teen Nederland in 2010 in Potchefstroom gemoker het.

Lee het in haar laaste drie kolfbeurte onderskeidelik 0, 29 en 4 aangeteken.

“Dit is twee verskillende dinge om in die nette te kolf teenoor daarbuite (in ’n wedstryd).

“Ek dink elke kolwer het bietjie selfvertroue nodig, jy kan nie uitgaan en niks hê nie. Ek is bly dat ek dit (die 100-tal) vir die span kon doen,” sê Lee.

Shabnim Ismail het die gety vir die Proteas teen Thailand gedraai.Foto: Gallo Images

Thailand het nooit gelyk of hy daarin kan slaag om die lopies te jaag nie. Boonop het Shabnim Ismail (3/8 in 3.1 boulbeurte) Thailand met haar snelballe geterroriseer. Die draaier Luus (3/15 in vier) het ook goed vertoon.

Wat egter die Proteas se kaptein, Dané van Niekerk, ’n pyn in haar kleintoontjie sal gee, is haar span se swak veldwerk.

Suid-Afrika het vier maklike vangkanse verbrou, met Van Niekerk, Ismail, Nadine de Klerk en Nonkululeko Mlaba wat almal daaraan skuldig was.

Lee erken Suid-Afrika se veldwerk was vrotsig.

“Ek moet eerlik wees, ons veldwerk was baie swak en hopelik is ons beter in die volgende wedstryd. Maar ons boulers het hulle goed van hul taak gekwyt.

“Ons is eintlik altyd goed in die veld, maar het soms so ’n wedstryd êrens langs die pad en is net bly dat dit verby is. Ek weet die span sal volgende keer beter wees,” sê Lee.

* Die veelsydige Marizanne Kapp het nie Vrydag gespeel nie, omdat sy lugweginfeksie onder lede het.

* Die Proteas reis nou na Sydney, waar hulle Sondag teen Pakistan te staan kom. Pakistan het Vrydag sy eerste nederlaag gely, toe Engeland hom met 42 lopies in Canberra geklop het.

* Begintyd Sondag teen Pakistan: 05:50 (SS 6).

 
Meer oor:  Shabnim Ismail  |  Lizelle Lee  |  Sydney  |  Thailand  |  Suid-Afrika  |  Krieket  |  T20-Wêreldbekertoernooi  |  Honderdtal  |  Protea-Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.