Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Leier moet onselfsugtig wees, sê Faf

“Soms is onselfsugtigheid die belangrikste eienskap van ’n leier.”

Met dié woorde het Faf du Plessis Maandag sy besluit om die tuig as Protea-krieketkaptein in alle formate neer te lê, verduidelik.

Die 35-jarige Du Plessis sal wel minstens tot die T20-Wêreldbekertoernooi later vanjaar in Australië steeds as ’n spesialiskolwer in al drie formate beskikbaar wees.

Faf du Plessis. Foto: Getty Images

Dit is net die spreekwoordelike kapteinsarmband wat nou aan iemand jonger oorgegee word – waarskynlik Quinton de Kock, wat reeds as nuwe eendagkaptein aangewys is en die T20-span verlede week aangevoer het.

De Kock se plek in die toetsspan is ook vasgemessel sodat wenkbroue nie sal lig as hy die toetskaptein word nie.

“Terwyl die span ’n nuwe rigting inslaan met nuwe leiers en jong spelers, voel ek dit is in die beste belang van Suid-Afrikaanse krieket,” het Du Plessis Maandag in ’n verklaring oor sy besluit oor die kapteinskap gesê.

“In ’n ideale wêreld sou ek graag die span vir die res van die seisoen in toetse en die T20-WB wou aanvoer, maar soms is onselfsugtigheid die belangrikste eienskap van ’n leier,” sê hy.

Du Plessis het Suid-Afrika in 112 internasionale wedstryde in alle formate aangevoer sedert hy in Desember 2012 vir die eerste keer kaptein gemaak is. Hy het 5 101 lopies as kaptein aangeteken.

Du Plessis sê die paar weke uit die spel ná die toetsreeks teen Engeland het hom perspektief gegee.

“Ná die Wêreldbekertoernooi in 2019 het ek die besluit geneem om voort te gaan in my rol as kaptein terwyl die span ná die uittrede van senior spelers ’n boufase betree het.

“Daar het ook ’n nuwe afrigtingspan ingekom. Dit was vir my belangrik om die span op dreef te laat kom en ’n nuwe weg vorentoe uit te stippel, terwyl ons die volgende generasie leiers identifiseer.”

Du Plessis sê die laaste seisoen van sy kapteinskap was egter vir hom die moeilikste tot nog toe, want daar was baie kwessies van die veld af wat sy energie en aandag geëis het.

“Ek het daarna gestreef om die span met waardigheid te lei. Ek het nog nooit die handdoek ingegooi nie en ek glo ek plaas nou die span eerste.” Du Plessis is gister ingesluit in die groep wat Australië van 21 tot 26 Februarie in drie T20-wedstryde gaan aanpak, berig Christo Buchner.

Ook die snelboulers Kagiso Rabada en Anrich Nortje is terug in die nasionale span, maar van die kanonpoot AB de Villiers is daar nog geen teken nie.

Daar word bespiegel dat De Villiers ná die Indiese Premierliga in ’n aantal wedstryde vir die nasionale span sal speel om aan die keurders te wys hy is gereed vir en ernstig oor die T20-Wêreldbekertoernooi later vanjaar.

Meer oor:  Faf Du Plessis  |  Kapteinskap  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.