Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Lions-breier: ‘Ons verdien ons titel’

Ja, hulle het hul laaste twee wedstryde verloor. En ja, baie kon nog in die laaste twee rondes van die meerdagreeks gebeur het.

Maar Wandile Gwavu, die afrigter van die Lions, glo sy span verdien om as die meerdagkampioen gekroon te word.

Die Lions se Migael Pretorius gee vir Rassie van der Dussen vyf, met hul Lions-spanmaats agter hulle, in ’n vierdagwedstryd verlede jaar. Foto: Gallo Images

Die Lions was boaan die puntelys met 121.62 punte toe die seisoen verlede week voortydig gestaak is weens die koronavirussiekte Covid-19. Daar was nog twee rondes van wedstryde oor en die Titans (113.16), Warriors (112.1) en Knights (112.02) het elk ’n realistiese kans gehad om die Lions in te haal.

Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika (KSA) se direkteur van krieket, het egter besluit om die meerdag- en eendagtitels te gee aan die spanne wat boaan die puntelys was toe die seisoen opgeskort is. So is die Dolphins as eendag-kampioen gekroon.

Gwavu erken vanjaar se titelsukses voel anders as verlede seisoen s’n, toe die Lions en Cobras tot die laaste dag van die seisoen in ’n wedloop om die titel gewikkel was.

“Ons sou uiteraard graag wou hê die kompetisie moet voltooi word, maar ons sal dit vat. Dis ’n wonderlike gevoel,” sê Gwavu.

Dit is waarskynlik die taaiste plaaslike kompetisie om te wen en om dit twee seisoene agtereenvolgens te kon vermag – om die titel te verdedig – is een van die moeilikste goed om te doen.

“Dit voel beslis nie dieselfde as verlede seisoen nie, want ek was deel van die span toe ons die reeks gewen het. Toe het ons die titel op die laaste dag van die seisoen beklink.

“Dit was beslis ’n ander gevoel en ek sou graag die veldtog wou voltooi. Maar ons was boaan die punteleer toe die seisoen stopgesit is, so dit beteken ons het goeie krieket gespeel.”

Die Lions het die eerste helfte van die reeks oorheers en drie van hul vyf wedstryde gewen, maar toe die reeks vanjaar hervat het, het hulle ’n effense insinking beleef. Hulle het hul laaste twee wedstryde verloor en die deur dus vir die

Wandile Gwavu, die Lions se afrigter. Foto: Gallo Images

Titans, Warriors en Knights oopgehou om hulle in te haal.

“Ek weet ons het twee wedstryde verloor, maar dit neem niks weg van enigiets nie. Ons het vier wedstryde gewen en dit is twee meer as enige ander span.

“Dit is waarskynlik die taaiste plaaslike kompetisie om te wen en om dit twee seisoene agtereenvolgens te kon vermag – om die titel te verdedig – is een van die moeilikste goed om te doen.

“Ek is dus verheug om die titel te kon wen en ek moet krediet gee aan al die spelers en almal betrokke by Lions-krieket.”

Van partytjie hou om hul titel te vier, is daar nie nou enige sprake nie. Hulle gaan gehoor gee aan die staat van inperking van 21 dae.

“Die pandemie is ’n baie ernstige saak en die ouens sal almal tuisbly by hul families, so daar is nog geen feesvieringe nie.

“Die tyd daarvoor sal kom. Of dit nou volgende maand is, of wanneer ook al, ons gaan nêrens heen nie.”

Meer oor:  Wandile Gwavu  |  Meerdagreeks  |  Lions  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.