Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Lions laat die lopies vloei in Benoni

’n Rekord-vennootskap van 390 lopies Woensdag tussen Dominic Hendricks (197, 630 minute, 453 balle, 20x4) en Nicky van den Bergh (217*, 370 m, 227 b, 29x4, 2x6) het die Lions se krieketspan in ’n bykans onaanvegbare posisie geplaas aan die einde van die derde dag van die meerdaagse kragmeting met die Titans op Willowmoorepark in Benoni.

Nicky van den BerghFoto: Gallo Images

Dié merkwaardige vennootskap, ’n nuwe Lions-rekord om die vyfde paaltjie, het die besoekers gehelp om hul eerste beurt op ’n massiewe 593/5 te sluit, ’n voorsprong van 354 lopies op die eerste beurt.

Op 95/5 is die Titans met die rug teen die doringbos in hul tweede beurt en veg hulle Donderdag op die laaste dag bloot net om oorlewing, iets wat nie sommer sal gebeur nie. Hulle moet nog 269 lopies kry net om ’n beurtnederlaag af te weer.

Was dit nie dat Hendricks drie lopies kort van ’n dubbele honderdtal uitgehaal is nie, kon hy en sy kaptein, Van den Bergh, nóg twee besondere mylpale behaal het.

Dit sou net die vierde keer in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse krieket gewees het dat twee kolwers ’n dubbele honderdtal in ’n kolfbeurt aanteken. Die laaste keer wat dit hier in Suid-Afrika gebeur het, was 52 jaar gelede toe Trevor Goddard en Hylton Ackermann dit vir die eertydse Noordoos-Transvaal gedoen het.

Hulle het ook net vier lopies nodig gehad om die franchise-rekord van 395 van JP Duminy en Dane Vilas om die vyfde paaltjie te verbeter.

Dit is egter verydel toe Hendricks ná ’n marathon-kolfbeurt van tien en ’n halfuur gestonk is van die boulwerk van Henry Davids.

Hierdie buksie-aanvangskolwer van die Lions het nog elke minuut van die eerste drie dae van die wedstryd op die veld deurgebring. Hy was die rots in die Lions-beurt, terwyl Van den Bergh veel meer aggressief was.

Waar dit Hendricks, wat op 44 en 156 misgevang is, ’n volle 280 balle geneem het om by sy honderdtal uit te kom, het Van den Bergh dit in 127 balle reggekry.

* Die kragmeting op Nuweland in Kaapstad tussen die Cape Cobras en die Warriors stuur op ’n opwindende einde af met albei spanne wat sal glo hulle kan nog wen.

Die Warriors (109/3) kort nog 97 lopies om die voorloper in die reeks te troef.

Nadat die Cobras in hul tweede beurt vir 309 uitgehaal is, was die Oos-Kapenaars se teiken 206.

David Bedingham (90, 199 m, 144 b, 14x4) en Jason Smith (69, 132 m, 109 b, 9x4, 2x6) was die steunpilare met die kolf vir die Kapenaars, terwyl die wegbreker Simon Harmer (7/89) die groot skade aangerig het vir die besoekers.

Met Dane Piedt (3/26) wat die Warriors se paaltjies in die tweede beurt geneem het, is dit ’n bewys dat die draaiers koning kraai en dat Piedt Donderdagoggend vroeg sal moet toeslaan indien die Cobras bo gaan uitkom.

Jon-Jon Smuts (25*) kan ’n sleutelrol met die kolf vir die Warriors vervul.

* In Pietermaritzburg het die Dolphins hul eerste beurt gesluit op 354/7, waarna die Knights tot 174/6 gevorder het, met Rudi Second (54*, 109 b, 6x4) en Shadley van Schalkwyk (35*, 42 b, 6x4, 1x6) voor die paaltjies. Eathon Bosch (4/62) was die tuisspan se voorste bouler.

Meer oor:  Jp Duminy  |  Benoni  |  Pietermaritzburg  |  Nuweland  |  Highveld Lions  |  Titans  |  Warriors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.