Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Lions se boulers, kolwers gedy

In krieket is daar ’n gesegde – kolwers wen wedstryde, boulers wen reekse.

Die Lions was verlede week die vergestalting van dié reël in hul opmars na die titel in die plaaslike T20-reeks in Durban.

Lions
Die Lions vier hul oorwinning in die eindstryd van die T20-reeks. Foto: Gallo Images

“Die boulers was skitterend in elke wedstryd en die kolwers het later in die reeks tot hul reg gekom,” het Temba Bavuma, die Lions se kaptein, gesê nadat hulle Sondag se eindstryd teen die Dolphins met vyf paaltjies gewen het.

“Die boulers was die ruggraat van die span. Om trofeë te wen, het jy ’n goeie boulaanval nodig en die feit dat ons gewen het, bewys dat ons dít gehad het.”

Die Lions se Sisanda Magala het die reeks afgesluit met die meeste slagoffers, 13. Kagiso Rabada was in die gesamentlike derde plek met nege paaltjies. Beuran Hendricks en Bjorn Fortuin was net-net agter hulle met sewe slagoffers elk.

Die Lions spog wel ook met die voorste drie lopiemakers – Reeza Hendricks (257), Temba Bavuma (216) en Rassie van der Dussen (167).

Daarom, sê Rabada, was dit ’n volslae spanpoging.

“Die kolwers én die boulers het hul deel gedoen. Kyk na die kolwers – Temba het lopies gekry, Reeza het lopies gekry, Rassie het lopies gekry. Ricky (Ryan Rickelton) het ’n taai reeks gehad, maar hy sal terugslaan. Dan het Wiaan (Mulder) nou twee agtereenvolgende wedstryde vir ons deurgesien teen die einde,” sê Rabada, wat 3/12 in die eindstryd platgetrek het.

“Onder die boulers is al ons naatboulers onder die top-ouens wat die aantal paaltjies betref en ons het baie goeie draaiers. Dit was ’n spanpoging om goed te vertoon in toestande wat nie maklik is nie.”

Rabada het dit geniet om vir die eerste keer in ’n lang ruk weer vir die Lions te speel.

“Ek wou regtig graag in die reeks speel, sodat ek weer op dreef kon kom. Ek wou ook graag weer vir die Lions speel, want ek het lanklaas vir hulle gespeel.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring om saam met my Lions-spanmaats te speel. Dit was ’n ontspanne omgewing, maar op die veld het ons goeie vertonings gelewer. Ons was aangeskakel, maar ontspanne.”

In die algemeen glo hy dit was ’n puik toernooi.

“Dit was ’n wonderlike toernooi. Dit was taai om soveel wedstryde agtereenvolgens te moes speel, maar dit was baie goed. Mense sê gereeld Suid-Afrikaanse krieket is in goeie hande en nou het ons dit gesien.”

Betreklik onbekende spelers, soos die Warriors se Mthiwekhaya Nabe (25), Ayabulela Gqamane (31) en Tristan Stubbs (20), die Knights se Raynard van Tonder (22) en die Cobras se Siyabonga Mahima, onder talle andere, het ook gewys wat in hulle steek.

Nabe is naas Magala die voorste paaltjievraat, met tien slagoffers teen ’n gemiddeld van 9.70 lopies per paaltjie.

Die Protea Lungi Ngidi het ook tien paaltjies platgetrek, teen 9.80 lopies per paaltjie.

Gqamane en Stubbs het hulself as mokermanne onderskei, terwyl Van Tonder met klassieke kolfwerk gewys het hy moet so gou as moontlik by die Proteas betrek word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.