Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Lions wen lag-lag teen Cobras in Potch
Ryan Rickelton jaag Vrydag nog ’n bal grens toe in sy beurt van 109* vir die Lions teen die Cape Cobras in Potchefstroom. Foto: Gallo Images

’n Verspot maklike oorwinning met ’n bonuspunt oor die Cape Cobras het die Lions die ideale begin tot die plaaslike eendaagse krieketreeks gegee.

Die Lions het die Kaapse span Vrydag met ses paaltjies geklop in die eerste wedstryd van Groep B, wat in ’n bio-borrel in Potchefstroom beslis word.

Die aanvangskolwer Ryan Rickelton se onoorwonne 109 lopies (100 balle, 12x4, 1x6) is nog ’n indrukwekkende vertoning in ’n baie belowende jong loopbaan. Hy is pas ook ingesluit in die Proteas se T20-groep vir die reeks in Pakistan.

So goed as sy beurt was, moet daar egter ook genoem word dat die Cobras glad nie op peil gelyk het nie.

Die Kapenaars het eerste gekolf en hul telling van 221 was straks 50 lopies kort van die baansyfer.

Die Cobras het nie te sleg begin nie, met Janneman Malan (67 van 84 b; 7x4), Zubayr Hamza (22) en Jean du Plessis (34) wat ’n grondslag gelê het. Die Cobras het 121/2 in die 29ste boulbeurt bereik, maar daarna het paaltjies met reëlmaat geval.

Christiaan Jonker het 33 van 35 balle gemoker om die beurt ’n bietjie momentum teen die einde te gee.

Dit was egter nie genoeg nie. Veral as in ag geneem word dat die kolftoestande baie beter was in dié wedstryd as wat vroeër vandeesmaand in Groep A se kragmetings die geval was.

Daar was meer vaart in die blad en dit was makliker om aanvallende houe te speel.

Die Lions het van meet af aan sonder enige moeite die teiken gejaag en Rickelton het baie volwassenheid aan die dag gelê om seker te maak dat sy span die teiken binne 40 boulbeurte haal om die bonuspunt in te samel. Hulle het uiteindelik 222/4 in 39.2 boulbeurte aangeteken.

Dit is die Cobras se sesde agtereenvolgende nederlaag van die seisoen. Die Kaapse franchise het al vyf sy wedstryde in die meerdaagse reeks verloor en gegewe hoe dié span Vrydag vertoon het, lyk dit nie of hy gou gaan terugkeer na die wenkampie nie.

Die Kapenaars was verlede seisoen óók oorwinningloos in die meerdaagse reeks.

Daar moet derhalwe ernstige vrae gevra word oor waar dinge tans skeefloop by dié franchise. Die afrigter, Ashwell Prince, moet beslis pa staan vir sy span se swak rekord, maar al die probleme op administratiewe en raadsvlak het sy taak beslis ook nie makliker gemaak nie.

Meer oor:  Lions  |  Krieket  |  Cape Cobras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.