Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Lions wys daar is wel lewe ná Nkwe

Daar is gewis lewe ná Enoch Nkwe by die Lions se krieketspan.

Lutho Sipamla is een van die Lions se aanwinste. Foto: Gallo Images

Nkwe het die Lions die afgelope seisoen verlaat om eers as tussentydse hoofafrigter en nou hulpafrigter van die Suid-Afrikaanse span diens te doen, nadat hy die Johannesburgse span se trofeekas in 2018/’19 tot oorlopens toe vol help maak het.

Met sy vertrek is gewonder of die Lions se ligte sonder hom so skerp sou aanhou brand. Veral toe die Jozi Stars (eintlik maar ’n vermomming van die Lions in die Mzansi-superliga) nie eens ’n skaduwee was van die span wat die vorige seisoen die eerste weergawe van hierdie toernooi verower het met Nkwe aan die stuur nie.

Hierdie keer was die Stars heel laaste en kon hulle glad nie uitvind hoe dit voel om ’n wedstryd te wen nie.

Namate die seisoen egter gevorder het, het die Lions hulle weer bewys as die konings van meerdaagse krieket. Dinsdag is bevestig dat hulle vir die tweede agtereenvolgende jaar die kampioen van die plaaslike meerdagreeks is.

Elkeen het sy deel bygedra om toe te sien dat ons nou weer die meerdaagse kampioen kan wee

Die Lions se nuwe afrigter, Wandile Gwavu, het gesê dit was ’n baie opwindende seisoen vir sy span wat hoogte- en laagtepunte betref.

“Elkeen het sy deel bygedra om toe te sien dat ons nou weer die meerdaagse kampioen kan wees,” het hy gesê.

“Bo en behalwe die sukses wat daar was, is daar egter ook waardevolle lesse geleer wat ons in die toekoms kan gebruik om selfs nog meer suksesvol te wees,” reken Gwavu.

Toe die meerdaagse reeks weens Covid-19 gestaak is, met twee wedstryde oor vir al die spanne, het die Lions die boonste plek op die punteleer beklee met 121.62. Die Titans was tweede met 113.16, gevolg deur die Warriors (112.1) en die Knights (112.02).

Sake kon dus nog baie interessant verloop het in die laaste deel van die reeks, maar Gwevu voel sy spelers het genoeg gedoen om as waardige kampioene die titel te behou wat hulle op skouspelagtige wyse in die laaste wedstryd van die vorige seisoen in Potchefstroom behaal het.

Hy het ook gesê die aanwins van spelers soos Lutho Sipamla en Sisanda Magala van die Warriors, Wesley Marshall van Oostelikes en die Titans en die Kapenaar Tladi Bokako, sal aanstaande seisoen nog interessanter maak.

Sipamla, wat wel al vir Suid-Afrika in witbal-krieket gespeel het, het die Lions bedank dat hulle hom reeds welkom laat voel het en vir hom ’n nuwe tuiste bied.

Hy het ook die Warriors en Oostelike Provinsie-krieket bedank vir wat hulle vir hom die laaste paar jare gedoen het en die gesonde grondslag wat daar in sy krieketlewe gelê is.

Meer oor:  Wandile Gwavu  |  Enoch Nkwe  |  Meerdagreeks  |  Lions  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.