Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Lungi is goud in doodsnik-beurte

Slim-statistieke is een manier waarop krieketspanne ’n ­mededingende voordeel kan kry. Die krieketontleders Chris Chiwanza en Shaun Rheeder kyk wie het volgens dié maatstawwe in die plaaslike T20-reeks uitgeblink.

Die Titans-snelbouler Lungi Ngidi vier ’n paaltjie in die afgelope T20-reeks in Durban. Foto: Gallo Images

’n Eenvoudige manier om spelers ná ’n reeks of toernooi te beoordeel, is eenvoudig deur die top-lopiemakers en -paaltjievrate te identifiseer.

Gereeld word dié oorkoepelende metingstelsels gebruik as redes wat aangevoer word waarom sekere spelers Protea-plekke moet kry. Dit is veral nou, met die T20-Wêreldbekertoernooi wat in Oktober in Indië voorlê, ’n groot gesprekspunt.

Talle mense maak reeds lysies van die spelers wat die beste vertoon het in die plaaslike T20-reeks, wat verlede week deur die Lions gewen is.

Maar met die oog op die Wêreldbekertoernooi moet die statistieke verfyn word voordat ons ’n oordeel oor die spelers se vertonings kan vel. Want miskien het die voorste lopiemaker ’n kritieke swak plek in sy mondering. Miskien staan die bouler met die meeste paaltjies gemiddeld baie lopies per boulbeurt af. ’n Bouler wat byvoorbeeld ’n paaltjie in ’n boulbeurt plattrek, maar 20 lopies (6, 4, 6, 4) daarna afstaan, kan moontlik ’n las wees. Die kolwer wat net vier balle trotseer, maar 20 lopies slaan, kan ’n T20-bate wees.

In dieselfde asem is ’n bouler wat ’n goeie aantal leë aflewerings afstuur, selfs al vat hy nie paaltjies nie, ’n aanwins in T20-krieket. Dit is die klein marges wat oorwinnings in T20-krieket verseker.

Minste grenslopies

Daarom moet boulers soos Keshav Maharaj, Chris Morris en Lizaad Williams in aanmerking geneem word vanweë hul algemene leëbal-persentasies tydens die reeks. Hulle drie het die hoogste leëafleweringspersentasies (minimum 10 boulbeurte) in die reeks gehad – met Maharaj op 57,64%, Morris op 48,08% en Williams op 46,94%. Die toernooi-gemiddeld in dié kategorie statistieke is 38,07%.

In T20-krieket is die rotering van ontvangskolwers ook belangrik. Daar is egter beter maniere om groot tellings op te stel of na te jaag as met enkellopies. ’n Lopietempo van net oor die ses of sewe lopies per boulbeurt help nie juis veel nie, tensy ’n span ’n baie lae teiken jaag.

Onder die boulers het drie draaiers – Maharaj (Dolphins), Imran Manack (Cobras) en Aaron Phangiso (Lions) die laagste persentasies gehad van grenshoue wat van hul boulwerk aangeteken is (van boulers wat minstens 10 beurte afgestuur het). Maharaj se grenshou-persentasie was 6,94%, Manack s’n 7,53% en Phangiso s’n 7,92%. Die toernooi-gemiddeld was 13,78%.

Draaier-slagters

Om draaiboulwerk te trotseer, is nou al lank die Proteas se Achilleshiel. Die maklike metingstelsel om spelers se gesukkel teen draai te meet, sou wees om te kyk hoe gereeld ’n kolwer sy paaltjie aan draaiers afstaan. Maar só bepaal jy nie of die kolwer net enkellopies van die draaiers gemelk het en die aksie van die anderkant van die kolfblad af dopgehou het terwyl die lopietempo klim nie. George Linde, Raynard van Tonder en David Miller (171.43, 154.72 en 154.55) het die beste treftempo teen draaiers gehandhaaf (onder kolwers met ’n minimum van 40 lopies) teenoor die toernooi-gemiddeld van 108.73.

Volgens ’n verslag op ESPNCricinfo het spanne tydens verlede jaar se Indiese Premierliga ’n gemiddeld van 11 lopies per boulbeurt in die doodsnikbeurte (die laaste vyf boulbeurte van ’n kolfbeurt) aangeteken.

Volgens ’n ander verslag teken spanne in die Australiese Big Bash-liga 11.38 lopies per beurt in die doodsnikke aan. Doodsnikbeurte word gesien as die belangrikste fases van ’n T20-wedstryd en dit is dus geen verrassing nie dat spelers wat in dié beurte uitblink, groot aanbiedinge van oorsese T20-ligas ontvang.

’n Doodsnikboulwerk-spesialis kan miljoene in die IPL verdien. In die plaaslike T20-reeks was Lungi Ngidi, Anrich Nortjé en Marco Jansen die uitstaande doodsnikboulers (met ’n minimum van vyf boulbeurte). Hulle het onderskeidelik ’n gemiddeld van 4.80, 6.32 en 6.56 lopies per beurt in die doodsnikke afgestaan, teenoor die toernooi-gemiddeld van 9.25.

George Linde Foto: Gallo Images
Mokermanne

Daar word altyd gesê dat een boulbeurt die gang van ’n wedstryd kan swaai. Dit is nie ongewoon vir een speler om meer as 24 lopies van een boulbeurt af aan te teken en die dinamika van ’n wedstryd op sy kop te keer nie. Spelers wat meer gereeld as ander grenshoue kan aanteken, verleen slaankrag aan hul span. Die topdrie-kolwers wat die gereeldste grenshoue kon aanteken onder spelers met ’n minimum van 50 lopies, was Ayabulela Gqamane, George Linde en Jon-Jon Smuts met ’n grenshou-gemiddeld van onderskeidelik 27%, 24,7% en 21,3%, teenoor die toernooi-gemiddeld van 13,78%.

Die bogenoemde is van die belangrike slim-statistieke wat in berekening gehou moet word wanneer spelers se deugde beoordeel word.

Ons statistieke moet meer genuanseerd wees. Liewer as om net te praat van lopies, moet dit ontleed word op grond van die fase van die wedstryd, die soort aflewering wat getrotseer word, grenshou-persentasies, sesse, ensovoorts.

Boulers moet nie net beoordeel word op grond van hul paaltjies nie, maar ook hul persentasie leë aflewerings en die persentasie van aflewerings wat nie grens toe gejaag is nie.

Slim-statistieke lei tot beter besluitneming, en dit lei tot ’n mededingende voordeel.

  • Rheeder is ’n geoktrooieerde rekenmeester en ’n krieketontleder wat al saam met verskeie franchise-spanne gewerk het. Chiwanza is ’n sportskrywer en het ook sy eie podsending.
Meer oor:  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.