Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Lyon sluit hom by uitgelese groep aan

Die wegbreekbouler Nathan Lyon sal homself knyp om seker te maak hy droom nie wanneer hy Vrydag op die Gabba in Brisbane die 100ste keer Australië se groen pet, die Baggy Green, gaan dra.

MELBOURNE, AUSTRALIA - DECEMBER 28: Nathan Lyon of
Nathan Lyon stuur een van sy wegbreke af in die derde toets tussen Australië en Indië in Sydney. Foto: Getty Images

Lyon en sy spanmaats pak Indië dan in die vierde en beslissende toets in hul krieketreeks.

Die 33-jarige Lyon sal Australië se 13de speler met 100 toetse op sy kerfstok word en sal hom by grotes van die spel soos Ricky Ponting en Steve Waugh (albei 168 toetse) aansluit.

“As ek kyk na die 12 ander ouens wat 100 of meer toetse vir Australië gespeel het, is hulle almal absolute legendes,” het Lyon Woensdag aan verslaggewers gesê.

“Nie net vir Australië nie, maar wêreldwyd. Ek gaan myself moet knyp ieder en elke dag wat ek my naam saam met daai ouens s’n sien.

Lyon kan boonop ’n ander groot mylpaal in Brisbane bereik. Hy kort net vier paaltjies om sy 400-tal in toetskrieket te voltooi.

Lyon, wat gebore en getoë is in die stowwerige plattelandse dorpie Young (in Nieu-Suid-Wallis), het ’n lang pad gestap sedert hy sy pos as baanopsigter van die Adelaide Oval in 2011 verlaat en hom by Australië se toergroep vir ’n reeks teen Sri Lanka aangesluit het.

Hy het sedertdien die wegbreekbouler met die meeste paaltjies vir Australië geword en in dié land se rekordboeke het net die bybreekbouler Shane Warne (708) en naatbouler Glenn McGrath (563) meer paaltjies in toetse platgetrek.

Met reekslouere op die spel ná die onbesliste uitslag in Sydney wil Lyon help om die Aussies tot ’n oorwinning te boul en die Border-Gavaskar-trofee, wat op die spel is in toetse tussen dié twee lande, terug te wen.

Lyon het bygevoeg dat hy nog lank nie beplan om sy krieketstewels weg te pak nie.

“Ek’s nog lank nie klaar nie. Trouens, my aptyt vir die spel is nou selfs groter. Ek wil nog soveel as moontlik vir Australië speel. Ek leer nog baie, selfs ná 100 toetse,” het Lyon gesê.

Benewens Ponting en Steve Waugh is Allan Border, Mark Waugh, Michael Clarke, David Boon, Justin Langer, Matthew Hayden, Mark Taylor, Shane Warne, Glenn McGrath en Ian Healy die ander Aussies wat 100 of meer toetse in hul loopbane gespeel het. – Reuters, Sportredaksie
Meer oor:  Indië  |  Toetskrieket  |  Nathan Lyon  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.