Bekende krieketlui, oud-spanmaats, spelers en administrateurs het Woensdag medelye betoon met die afsterwe van Inez Pollock, vrou van Peter Pollock, en ma van Shaun Pollock, wat albei Suid-Afrika op die krieketveld verteenwoordig het.

Shaun PollockFoto: Getty Images
Peter (79) het gesê meer besonderhede oor haar dood sal later bekend gemaak word.
Die Pollocks is van die land se krieket-adel en die kolwer Barry Richards was onder die sterre van die spel wat op sosiale media hul medelye betoon het.
Voormalige Proteas soos Pat Symcox, Ray Jennings, Brian McMillan en ook Cally Barlow, die vrou van wyle Eddie Barlow, het boodskappe geplaas.
Die Pollocks was albei sterboulers in hul loopbane. Peter het Suid-Afrika in 28 toetse van 1961 tot 1970 verteenwoordig. Hy was later keurderbaas van die nasionale span en is die laaste paar jaar ’n evangelis.
Shaun (47) het in sy roemryke internasionale loopbaan van 1995 tot 2008 in 108 toetse, 303 eendagwedstryde en 12 T20-wedstryde vir die Proteas gespeel. Hy was ’n nasionale kaptein en is as kommentator steeds by die spel betrokke.