Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Maak huis skoon by Krieket SA’

Norman Arendse, die voormalige president van Krieket Suid-Afrika (KSA), sê die hele kaboedel verantwoordelik vir die gemors waarin Suid-Afrikaanse krieket tans is, moet onmiddellik bedank.

Adv. Norman Arendse, ‘n voormalige president van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

“Hulle moet bedank en hulle moet dit so gou as moontlik doen. Daar moet skoongemaak word,” het Arendse Dinsdag in ’n radio-onderhoud op Jacaranda FM gesê nadat hy uitgevra is oor sy ope brief die vorige dag oor die beroerde stand van sake in Suid-Afrikaanse krieket.

Arendse sê die vingers wys na die uitvoerende hoof, Thabang Moroe, maar hy sê die president, Chris Nenzani, moet sekerlik ook weet wat aangaan.

“Deur nie enigiets daaromtrent te doen nie, is hy net so aandadig.”

Arendse het ook uitgevaar teenoor KSA se hele raad van onafhanklike en nie-onafhanklike direkteure.

“Die onafhanklikes (se versuim om op te tree) is uiters teleurstellend. Ek ken ’n paar van hulle baie goed, hulle is mense met integriteit, maar die probleem is dat hulle nie krieketmense is nie.”

As jy nie bevredigende antwoorde kry nie, dan moet jy iets daaromtrent doen.

“Hulle moet die uitvoerende hoof verantwoordbaar hou en om dít te doen moet jy die spel ken en moet jy die regte vrae vra. As jy nie bevredigende antwoorde kry nie, moet jy iets daaromtrent doen.”

Prof. Shirley Zinn, een van die raad se onafhanklike direkteure, het wel Dinsdag bedank. Sy het aangedui haar besluit hou verband met die beginsels van korporatiewe bestuur. Daaruit kan afgelei word dat sy nie vereenselwig wil word met hoe sake by KSA bestuur word nie.

Arendse is ook baie bekommerd omdat min dinge nog in plek is op die vooraand van Engeland se besoek – gewoonlik een van die groot toere – wat vandeesmaand begin.

Arendse sê hy het ’n stortvloed van boodskappe van betrokkenes oor die hele spektrum gekry wat ook bekommerd oor die stand van sake is.

Hy sê in sy ope brief van Maandag – meer ’n pleidooi aan die ringkoppe – hy kon nie daaroor stilbly nie.

Hulle moet nou optree voor dit te laat is. Hy vermoed egter dis reeds te laat.

Dit was ongrondwetlik en onwettig en moet deur alle krieketliefhebbers betreur word.

Arendse is onder meer bekommerd oor die finansiële posisie waarin KSA is vergeleke met die tyd toe hy nog betrokke was.

Hy sê in die brief daar was verskeie kwessies waaroor die media berig het en dat die terugtrek van ’n paar gerespekteerde krieketskrywers se akkreditasie die naweek die laaste strooi vir hom was.

“Dit was ongrondwetlik en onwettig en moet deur alle krieketliefhebbers betreur word.”

Moroe het intussen telefonies kontak gemaak met vier van die vyf betrokke joernaliste (Stuart Hess, Neil Manthorp, Telford Vice en Firdose Moonda - hy sê in 'n brief aan die Nasionale Redakteursforum hy kon die vyfde, Ken Borland, nie bereik nie) en het “uit die diepte van sy hart” namens KSA om verskoning gevra. Hy het ook beloof om hulle in die openbaar weer om verskoning te vra.

 Moroe het ook Dinsdag in ’n verklaring belanghebbendes om verskoning gevra en beloof dat KSA in die toekoms beter en meer gereeld sal kommunikeer. 

Meer oor:  Norman Arendse  |  Ksa  |  Chris Nenzani  |  Shirley Zinn  |  Thabang Moroe  |  Krieket Suid-Afrika  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.