Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Maak of breek vir Titans en Knights
Die Knights se Gerald Coetzee op die aanval. Foto's: Gallo Images

Die vierdagwedstryd tussen die Titans en Knights wat vandag op SuperSport-park in Centurion begin, kan albei dié spanne se seisoen maak of breek.

Die tuisspan erken hulle het onderpresteer in witbalkrieket, en is desperaat vir ’n trofee noudat die kollig weer op die rooi bal is.

Daarenteen het die Knights mededingend gebly in al die formate. Dat hulle geen trofee kon wen nie, maak hulle honger vir titelsukses in die vierdag­reeks – veral omdat dit jongelinge soos Raynard van Tonder, Migael Pretorius en Gerald Coetzee sal beloon vir skitterspel in die laaste maande.

Die Bloemfonteiners kan maar droom van vierdagglorie. Hulle hervat die reeks aan die bokant van Groep A met 87.94 punte en ’n voorsprong van meer as 11 punte oor die tweede geplaaste Dolphins (76.42). Daarby is hulle meer as 12 punte beter daaraan toe as die Titans (75.58), wat die eerste posisie in Groep B beklee.

Realisties gesproke hoef die Knights net ’n nederlaag teen die Titans te vermy en hul laaste wedstryd weg teen die Cobras (deesdae ’n onderpresteerder) te wen om die vierdag­titel te buit.

Die kragmeting sal vandag van 9:45 af op SuperSport (kanaal 201) gewys word.

Jacques Faul, uitvoerende hoof van die Titans, sê die verwagtinge is hoog. “Ons gaan die wedstryd in sonder Lungi Ngidi en Heinrich Klaasen, wat beseer is. Maar dit was nie ’n normale seisoen nie. Ons het net een wedstryd gespeel in die Eendagbeker in Potch (waar reën amok gemaak het) en toe verlede week gesukkel in Durban (in die T20-uitdaagtoernooi), waar die blaaie ons kolwers se angel getrek het.”

Dié kolwers kry nou kans om die bordjies te verhang. Dean Elgar, Suid-Afrika se nuwe toetskaptein, en sy Protea-aanvangsmaat, Aiden Markram, is beskikbaar, asook Theunis de Bruyn.

Migael Pretorius

Faul het gesê die Titans se afrigter, Mandla Mashimbyi, kan dalk besluit om die draaier Tabraiz Shamsi uit te laat. ’n Groot deel van die boul-verantwoordelikhede sal val op die skouers van Lizaad Williams (16 paaltjies in die kompetisie tot dusver) en Okuhle Cele (11 paaltjies).

Die Knights het ’n besliste voordeel met hul boulaanval. Hul uitvoerende hoof, Johan van Heerden, het gister gesê die skete wat hul snelboulers gepla het, is nou iets van die verlede.

Dit beteken Pretorius en Coetzee kan die nuwe bal neem, en die immergroen Shaun von Berg kan later kom skade maak.

Von Berg is die kompetisie se grootste paaltjievraat, met 24 slagoffers teen ’n gemiddeld van 20.

  • Titans (uit): Dean Elgar, Aiden Markram, Neil Brand, Theunis de Bruyn, Sibs Ma­khanya, Grant Thomson, Rivaldo Moonsamy, Tabraiz Shamsi, Junior Dala, Lizaad Williams, Okuhle Cele, Diego Rosier en Thando Ntini.
  • Knights (uit): Jacques Snyman, Raynard van Tonder, Grant Mokoena, Pite van Biljon, Wandile Makwetu, Farhaan Behardien, Migael Pretorius, Shaun von Berg, Alfred Motoa, Gerald Coetzee, Mbulelo Budaza en Ferisco Adams.
Meer oor:  Centurion  |  Titans  |  Krieket  |  Knights
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.