Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Maccie staan opsy vir jong Turke

Die koms van belowende jong spelers was een van die faktore wat daartoe gelei het dat die Knights se Ryan McLaren besluit het om uit alle krieket te tree.

Ryan McLaren/Foto: Gallo Images

Die 36-jarige McLaren het sy uittrede uit eersterangse krieket vroeër die seisoen aangekondig. Hy was met dié aankondiging nog van plan om hom volgende seisoen nog vir witbalkrieket beskikbaar te stel, maar het intussen daarteen besluit.

“Ek het sowat ’n maand na die vroeëre aankondiging oor meerdagkrieket besluit om nou met alles klaar te maak,” sê McLaren wat 54 eendag- en 12 T20-wedstryde vir Suid-Afrika gespeel het.

Dié veelsydige speler, wat al die kolfbeurt saam met Sachin Tendulkar by die Mumbai Indians begin het, dink ook nie meer aan ander T20-toernooie nie.

“Daar is ’n paar bydraende faktore wat ’n rol gespeel het in my besluit om nou heeltemal klaar te maak.

“Die een hoofrede is dat ek meer by die huis wil wees en pa wil wees.”

Die een hoofrede is dat ek meer by die huis wil wees en pa wil wees.
Ryan McLaren

“Ek het tweedens ook al baie geleenthede gehad soos om in T20-liga oor die wêreld te speel.

“Ons sit boonop nou hier met ’n paar jong spelers soos Raynard van Tonder en Gerald Coetzee en dan is daar ook die twee Jansen-boeties (Marco en Duan) wat kontrakte met die Knights geteken het.

“Ek dink dit is nou tyd vir hulle om op die voorgrond te tree en die geleentheid te kry om te speel.”

Veteraan of nie, McLaren het die afgelope eendagreeks as die Knights se topkolwer met ’n gemiddeld van 81.25 afgesluit met drie vyftigtalle in agt kolfbeurte.

McLaren se laaste tuiswedstryd, van ’n loopbaan wat oor 16 jaar strek, die T20-wedstryd teen die Dolphins Woensdag op die Mangaung Oval, is af te gelas weens die deurdringende reën van die laaste paar dae wat die buiteveld deurdrenk gelaat het.

Reën het daarmee die laaste sê in al vyf die Knights se tuiswedstryde van die reeks – drie in Kimberley en twee in Bloemfontein – gehad. Die span se twee oorblywende wedstryde van die seisoen teen die Titans en Warriors word onderskeidelik Vrydag in Centurion en Sondag in Oos-Londen beslis.

*Die Knights het Woensdag bevestig dat Werner Coetsee volgende seisoen as Alan Kruger se hulpafrigter sal aanbly.

Meer oor:  Ryan Mclaren  |  Krieket  |  Raynard Van Tonder  |  Proteas  |  Knights
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.