Die Proteas is desperaat om vir Sisanda Magala te kies.
Dinsdag het hy opnuut bewys waarom.

Sisanda Magala appelleer nadat hy die Knights se Raynard van Tonder been voor paaltjie betrap het. Foto: Gallo Images
Sy boulsyfers van 5/20 in sy vier boulbeurte het die Lions gehelp om die Knights gerieflik met sewe paaltjies te klop in hul derde wedstryd van die plaaslike T20-reeks in Durban. Dit is die beste ontleding van sy loopbaan.
Magala is al ’n paar keer by Protea-groepe ingesluit, maar kon nog nie aan die nasionale span se fiksheidsvereistes voldoen nie. Die Proteas wil graag hê dat hy sy fiksheidsvlakke opskerp sodat hulle hom ’n kans in die groen-en-goud kan gee.
Hy is lid van ’n vreesaanjaende boulaanval van die Lions, wat uitsluitlik uit Proteas bestaan. Magala is met tien paaltjies die voorste vraat in die reeks.
Dinsdag het hy, Bjorn Fortuin (0/25 in vier bbe.), Kagiso Rabada (1/24 in 4 bbe.), Beuran Hendricks (2/21 in vier bbe.) en Aaron Phangiso (2/14 in vier bbe.) die Knights vir 106 in hul 20 boulbeurte uitgeboul.
Dwaine Pretorius het nie eens boulkans gekry nie. Wiaan Mulder en Lutho Sipamla kry nie eens plek in die span nie. Dan is Malusi Siboto en Eldred Hawken – strydrosse van plaaslike krieket – ook nog in die Lions se groep, maar kry gewoon nie plek in die sterk span nie.
Die Knights het Dinsdag teruggeveg met die bal.
Die jong Gerald Coetzee (2/19 in vier bbe.) het skitterend geboul en die Lions aanvanklik onder bedwang gehou. Dit was egter nie ’n teiken wat hulle ooit té veel sou kwel nie en Reeza Hendricks (47, 48 b) en Temba Bavuma (53*, 47 b) het gesorg dat die Lions daar uitkom.
Die Lions, Titans en Dolphins blyk kop en skouers bo die ander drie spanne in dié reeks uit te staan .
Die Titans het ook ’n klomp goeie boulers, met veral Chris Morris en Lungi Ngidi wat baie ekonomies is.
Die Dolphins se draaiers, en in die besonder Keshav Maharaj, is weer hul troefkaart.

George Linde vier een van sy vier paaltjies teen die Warriors. Foto: Gallo Images
• In die eerste wedstryd van die dag, het die Cobras ’n troosoorwinning behaal deur die Warriors met 24 lopies te klop.
Voor dié sege het die Cobras drie agtereenvolgende nederlae gely en is reeds uit die wedloop vir ’n plek in die uitspeelrondes. Die Warriors is na dese ook uit die wedloop, aangesien hulle ook drie nederlae op ’n streep toegedien is.
Die Cobras het ’n spoggerige vertoning gelewer en Zubayr Hamza (57, 45 b) het voortgebou op sy vyftigtal in hul derde wedstryd teen die Knights.
George Linde was ook puik met ’n beurt van 48* (20 b) en het die Cobras gehelp om by 181/5 uit te kom.
Daarna het die draaier met 4/25 in sy vier beurte ’n stervertoning gelewer.
Die Warriors het gesukkel om aan die gang te kom met die kolf en in die elfde beurt op 75/7 gesteier, voordat die jong Marco Jansen (47, 36 b) en Anrich Nortjé (25, 21 b) die langsteel ingelê het om hulle by ’n totaal van 157 uit te kry.
Linde sê hulle voel nie hulle het swak krieket tot dusver in die reeks gespeel nie.
“Ons kon minstens drie uit die vier wedstryde gewen het, maar ons is net tevrede dat ons nou ons eerste oorwinning behaal het,” sê Linde.
“Ek is baie bly vir Zubbie (Hamza), hy het hierdie nodig gehad (ná ’n paar ondergemiddelde kolfvertonings). Hy is ’n sterk man, sielkundig ook, en dit sal hom goed doen.”