Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Maharaj, Paterson wys top-kolwers hóé

Maandag om 11:00 het die stadionpersoneel by St. Georgepark reeds biere in die persbank se yskas kom sit. Die geklingel van die bottels was die klank van die Proteas se doodsklok wat begin lui het.

Dié ritueel vind gewoonlik eers hier teen 18:30 plaas, maar wie kon die gashere kwalik neem? Suid-Afrika het immers op 145/9 gesteier op die laaste dag van die derde toets teen Engeland. Vernon Philander (13), Kagiso Rabada (16) en Anrich Nortjé (5) was boonop reeds uit.

Keshav Maharaj dryf ’n bal vir vier in ’n sprankelende kolfbeurt op die laaste oggend van die derde toets teen Engeland op St. Georgepark in Port Elizabeth. Foto: AP

Toe besluit Keshav Maharaj almal sal wag vir hul koues en moker 71 lopies. Hy het in Dane Paterson (39*, 40 balle; 6x4), wat in die eerste beurt soos ’n klubspan se nr. 11 gelyk het, ’n gewillige vennoot gevind en saam het hulle die Baaise skare ’n bietjie vermaak.

Dit is iets wat die toporde-kolwers glad nie oor die laaste vyf dae kon doen nie. Dit is te wyte aan hulle – die topkolwers – dat die Proteas dié toets met ’n beurt en 53 lopies verloor het. Dit is die vierde grootste toetsnederlaag op tuisbodem sedert hertoetrede.

HOOGTEPUNTE

Die Proteas is vir 237 uitgeboul en het 135 lopies by die oornagtelling van 102/6 gevoeg.

As Maharaj en Paterson egter ’n vennootskap van 99 kan opstapel – die hoogste vennootskap om die tiende paaltjie nóg in Port Elizabeth en die derde beste tiendepaaltjie-vennootskap nóg vir Suid-Afrika – kan dié blad regtig nie soveel duiwels inhê nie.

Elk van die vier sesse en tien viere wat Maharaj geslaan het, was ’n groot vet vinger van beskuldiging in die rigting van die kolwers wat hul paaltjies so maklik weggegee het.

Maharaj het een reusagtige boulbeurt gehad toe hy vir Joe Root (4/87), wat gulsig geraak het vir ’n eerste vyfpaaltjie-oes, vir 4, 4, 4, 6 en 6 getimmer het. Die laaste bal het boonop vir vier bylopies gegaan.

Die uitslag was egter nooit in die weegskaal nie. Maharaj is omstreeks 11:50 deur Sam Curran uitgehardloop en Engeland het tereg feesgevier.

Dit is nie ’n ervare of vreesaanjaende Engelse span nie. Hierdie is ’n wegreeks, een wat hulle nie meer kan verloor nie.

Die Engelse sal die oorweldigende gunsteling wees wanneer die vierde toets Vrydag in Johannesburg begin, met die reeks op 2-1 in hul guns.

Suid-Afrika se beste bouler, Kagiso Rabada, sal nie speel nie. Jofra Archer, Engeland se snelprins, gaan waarskynlik gereed wees.

Daarom sou die verversings in die Engelse kleedkamer soveel soeter smaak as in Suid-Afrika s’n.

TELKAART

Meer oor:  Port Elizabeth  |  St. Georgepark  |  Engeland  |  Toetskrieket  |  Kriekettoets  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.