Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Maharaj wil 100-talle vir toetsspan slaan

Keshav Maharaj is nie meer net tevrede daarmee om die Proteas se voorkeur-toetsdraaier te wees nie.

Hy wil hom nou as ’n veelsydige speler vestig en nie net honderdtalle vir die toetsspan slaan nie, maar sommer gróót honderdtalle.

Keshav Maharaj het in die reeks teen die Aussies sy terugkeer tot internasionale eendagkrieket gemaak. Foto: Gallo Images

“In Indië (Oktober 2019) het ek gevoel hoe dit voel om ’n toetsvyftigtal te slaan. Ek wil my kolfwerk graag sodanig verbeter dat ek as ’n veelsydige speler geklassifiseer kan word,” sê Maharaj (30).

In Januarie, in die derde toets teen Engeland in Port Elizabeth, het hy sy tweede toetsvyftigtal aangeteken – ’n warrelwindbeurt van 71 (106 balle), wat die besoekers op dag vyf gefrustreer het.

“Ek het ’n verandering aan my ingesteldheid gemaak en dit het vrugte afgewerp. Die kwessie was net om daardie eerste vyftigtal te kry. Gelukkig is dit nou uit die weg geruim.

“Daarna het ek nog ’n 50 geslaan en nou wil ek graag honderdtalle, en gróót honderdtalle, vir die toetsspan slaan,” sê Maharaj, wat sy troue weens die koronavirus-pandemie moes uitstel.

Ek wil my kolfwerk graag sodanig verbeter dat ek as ’n veelsydige speler geklassifiseer kan word.
Keshav Maharaj

Hy het ’n eersterangse kolfgemiddeld van 20.38 en het al twee honderdtalle en 12 vyftigtalle op daardie vlak geslaan.

Albei sy honderdtalle was egter in die driedaagse reeks vir KwaZulu-Natal. In provinsiale krieket is sy gemiddeld 25.86, maar in franchise-krieket slegs 19.67.

Dit is juis sy kolfwerk wat opgeskerp moes word vir hom om weer ’n kans in die eendagspan te kry, sê Maharaj. In die eendagreeks teen die Aussies het hy vir die eerste keer sedert 2018 weer eendagkrieket gespeel.

“Nadat ek my eendagbuiging in 2017 teen Engeland gemaak het, moes ek my spel en plan ontwikkel oor hoe ek in eendagkrieket te werk wou gaan,” sê hy.

Keshav Maharaj het vanjaar in die derde toets teen Engeland sy tweede toetsvyftigtal geslaan. Foto: Gallo Images

“Dit was ongelooflik frustrerend om as ’n rooibaldraaier gebrandmerk te word. Aan die begin van my loopbaan is ek as ’n witbaldraaier beskou en toe verander dinge. Ek het teruggegaan plaaslike krieket toe en so hard as moontlik aan my eendagkrieket gewerk.

“Dit was daarom lekker om terug in die eendagspan in te kom. Ek het destyds gevra wat ek moet doen om weer gekies te word en die antwoord was dat ek nie net op my boulwerk moet fokus nie, maar ook aan my kolfwerk moes werk.

“In plaaslike krieket was ek gelukkig genoeg om die (Dolphins se) kaptein te word, wat my genoop het om meer verantwoordelikheid te aanvaar. Ek kon ook ’n paar goeie beurte met die kolf speel.”

Sy visier is nou ook op T20-krieket ingestel. Hy wil Suid-Afrika help om die nr. 1-span ter wêreld te word, in al drie formate.

Meer oor:  Keshav Maharaj  |  T20  |  Toetskrieket  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Suid-Afrika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.