Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Maketa spoel mond uit nadat KSA hom pos

Dit was “sielsvernietigend” om terug te keer van die Wêreldbeker-kriekettoernooi en te hoor hy is sy pos as Protea-hulpafrigter kwyt, sê Malibongwe Maketa.

“Dit was bitter teleurstellend. As ’n afrigter wil jy graag wedstryde wen, maar ons weet in watter bedryf ons is. As sake nie volgens plan verloop nie, gaan jy afgedank word,” sê Maketa, wat een van die vorige Protea-breier, Ottis Gibson, se assistente was.

Malibongwe Maketa was ’n Protea-hulpafrigter onder Ottis Gibson. Foto: Gallo Images

Maketa, Dale Benkenstein, Justin Ontong en Claude Henderson is almal saam met Gibson gepos ná Suid-Afrika se teleurstellende WB-veldtog.

Maketa, ’n voormalige afrigter van die Warriors, is deur Krieket Suid-Afrika (KSA) geoormerk as ’n kandidaat om Suid-Afrika se eerste etnies swart afrigter te word. Die beheerliggaam wou dus hê hy moet onder Gibson leer.

Ná die WB-toernooi het Maketa homself vlugtig in die krieketwildernis bevind, voordat hy Saterdag as die waarnemende SA A-afrigter aangewys is nadat Russell Domingo as Bangladesj se nuwe hoofafrigter aangestel is.

Dit was egter nie die pos wat Maketa in sy visier gehad het nie.

“Om gepos te word, is maar deel van ons beroep. Maar dit raak ’n bietjie ongemaklik wanneer KSA nie voel ek is die regte man vir die pos van spandirekteur nie, nie die regte man om die groep vorentoe te neem nie.

“Dit is sleg, maar as hulle dink ek is nie die regte man nie, selfs met daardie ervaring wat ek onder Ottis opgedoen het, en hulle stel iemand anders aan, is dit reg.

“As hulle my nie as die spandirekteur sien nie, moet ek dit respekteer.”

KSA het besluit om Enoch Nkwe ná een goeie seisoen by die Lions as die Proteas se tussentydse spandirekteur aan te stel. Corrie van Zyl, KSA se waarnemende direkteur van krieket, het verlede week gesê hulle het steeds planne met Maketa en dat hy hom as ’n uitsonderlike afrigter sien.

Ek sal nie net opsies in Suid-Afrika oorweeg nie, maar ook wêreldwyd na geleenthede begin soek.
Malibongwe Maketa

Vir die 38-jarige Maketa is die emosies egter steeds rou, selfs al gaan hy nou die SA A-span in Indië afrig.

“As ’n gesin verwerk ons nog alles wat gebeur het. Ons moet in gedagte hou dat die SA A-pos slegs waarnemend is, daar is niks konkreet nie. Daar is steeds baie besluite wat ek moet neem.

“Ek weet nie vir hoe lank ek in daardie pos gaan wees en wanneer dit geadverteer gaan word nie, so ek kan nie sit en dink ek is die SA A-afrigter nie, want dit is net tydelik.”

Hy moet nog besluit of hy aansoek gaan doen vir die heeltydse pos as SA A-breier.

“Dit klink of KSA die portefeulje van die pos wil uitbou sodat die SA A-span meer wedstryde speel, so ek sal wag en kyk wat daar gebeur.

“Vir eers fokus ek op die SA A-span en om die spelers wat ook deel van die toetsspan is, vir die toetsreeks voor te berei.

“Daarna sal ek my opsies oorweeg. Ek sal nie net opsies in Suid-Afrika oorweeg nie, maar ook wêreldwyd na geleenthede begin soek,” sê Maketa.

Meer oor:  Ksa  |  Krieket Suid-Afrika  |  Proteas  |  Malibongwe Maketa  |  Wb-Toernooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.