Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Wêreld se nr. 1, maar veg vir plek in span

Dawid Malan is die voorste kolwer op die Internasionale Krieketraad se T20-ranglys, maar dit beteken nie dat hy verseker is van ’n plek in Engeland se gevreesde kolflys nie.

Dawid Malan slyp saam met sy Engelse spanmaats vroeër vanjaar op Nuweland. Foto: Getty Images

Met ’n rekord van 682 lopies teen ’n gemiddelde van 48.71 en ’n treftempo van 136.66 in internasionale T20-krieket sal ’n mens dink hy hoef vir niemand terug te staan nie, maar hy ding mee met Jos Buttler, Jason Roy en Johnny Bairstow vir ’n plek in Engeland se topdrie.

Malan (33) het gesê die eerste plek op die ranglys is iets waarna hy ná sy aftrede met trots sal terugkyk.

“Ek dink egter nie tans daaraan nie. Dit (die plek op die ranglys) waarborg nie dat jy lopies gaan aanteken nie. Dit verseker jou nie van ’n plek in die beginspan nie,” sê Malan.

Dié voormalige leerling van die Hoër Jongenskool Paarl was Donderdag aanlyn aan die woord tydens ’n Engelse oefening op Nuweland.

Die Engelse span, wat tans in kwarantyn in Kaapstad is, slyp vir ’n reeks van drie T20- en drie eendagwedstryde teen die Proteas. Die eerste T20-stryd word volgende Vrydag op Nuweland beslis. Al die wedstryde in die twee reekse word op Nuweland of op Bolandpark in die Paarl gespeel.

“Al wat ek kan doen, is om aan te hou om hard te werk in die nette en as ek ’n geleentheid kry, om lopies aan te teken en druk te plaas op die ander ouens,” sê Malan.

“Elke geleentheid om in dié span te speel, is goud werd. Ek kan slegs die dinge beheer wat ek kan.”

Malan was in Engeland se laaste sewe blitswedstryde in aksie. Met tellings van 11, 23, 54*, 7, 66, 42 en 21 in daardie sewe wedstryde, gaan hy beslis in aanmerking wees wanneer die beginspan volgende week aangekondig word.

Roy was beseer tydens die wedstryde in die afgelope Engelse somer teen Pakistan en Australië, terwyl die veelsydige Ben Stokes ook weer beskikbaar is nadat hy die reekse in Engeland gemis het weens ’n besoek aan sy siek pa in Nieu-Seeland.

Malan het gesê dat hy geen idee het hoe die beginspan gaan lyk nie.

“Dit is ’n vraag vir die keurders en die afrigters,” het Malan gesê. – Sportredaksie, ESPNcricinfo

Meer oor:  Dawid Malan  |  T20  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.