Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Manjifieke Markram voel beter as ooit

Nog nooit in sy loopbaan het Aiden Markram al só goed voor die penne gevoel, soos Vrydagoggend op dag een van die derde kriekettoetswedstryd teen Pakistan op die Wanderers nie.

Aiden Markram lig sy kolf ná sy vyftigtal Vrydag op die Wanderers. Foto: AP

Markram se uitmuntende beurt van 90 (124 balle, 16x4) het ’n uitstekende grondslag vir Suid-Afrika gelê.

“Dit is die beste wat ek nóg in ’n sessie beweeg het,” sê Markram, wat 78 lopies in die eerste sessie geslaan het.

“Die eerste ses of sewe beurte was taai. Hul naatboulers het dit moeilik gemaak. Die bal het so ietwat van die blad af beweeg en dit was ook redelik stadig.

“Dit was lekker om ’n vennootskap (van 126) saam met Hash (Hashim Amla, 41) op te stel en deur daardie eerste uur te kom,” sê hy.

Markram sê hy wil voortaan altyd met soveel selfvertroue en intensiteit kolf, maar hy sal steeds goeie aflewerings identifiseer en respekteer.

Dit was egter nie ’n goeie aflewering wat hom uitgekry het nie. Hy het buiterand bygekry ná ’n los aflewering aan die bykant.

Dit was baie teleurstellend, maar sulke dinge gebeur.
Aiden Markram

“Dit was baie teleurstellend, maar sulke dinge gebeur.”

Dit was die derde keer in sy loopbaan dat Markram in die 90’s uitgehaal is. Hy sê jong Suid-Afrikaanse kolwers moet maar vrede maak met die feit dat kolfwerk in die afsienbare toekoms moeilik gaan wees, aangesien daar so ’n oorvloed aan jong snelboulers is.

“Ons het soveel goeie jong snelboulers, so dit sal dom wees om nie blaaie voor te berei wat hulle bevoordeel nie. Ons sal maar daaraan gewoond moet raak om op uitdagende blaaie te kolf.”

Nadat hy uit is, het nog twee jong spelers, Theunis de Bruyn (49) en Zubayr Hamza (41), die Proteas se telling verby 200 laat vorder voor die teepouse.

De Bruyn, Hamza en Markram is almal jonger as 26 en hul vertonings voorspel goeie dinge vir Suid-Afrika.

“Dit is opwindend,” sê Markram.

Die blad is ’n baie goeie een – baie beter as die blaaie in die eerste twee toetse.
Mohammad Amir

“Om te sien hoe Zuby vandag gespeel het, is iets waaroor alle ondersteuners opgewonde kan raak. Theunis is net so ’n goeie kolwer, al wys sy tellings dit dalk nie.

“Sy honderdtal (verlede jaar) in Sri Lanka, spreek boekdele en ons sal nog baie meer van hom sien.”

Ná De Bruyn en Hamza se vennootskap het die Proteas ’n kolfineenstorting beleef. Die laaste sewe paaltjies het vir slegs 36 lopies geval en die Proteas is vir 262 uitgeknikker – ’n telling wat nie die gehalte van die blad weerspieël nie.

Markram sê die blad bied tog so ’n bietjie bystand aan die boulers en Pakistan het dit uitstekend uitgebuit.

Hy glo ook kolfwerk het moeiliker geraak soos die dag gevorder het en “dít is baie goeie nuus vir ons boulers”.

Pakistan se twee voorslagboulers, Mohammad Amir (2/36) en Mohammad Abbas (2/44), was uitstaande in die laaste sessie.

“Ons het in die eerste twee sessies nie goed geboul nie, maar ná die teetyd het ons besluit om met ’n meer reguit lyn te volhard en vir die paaltjies te mik,” sê Amir.

“Dit het vir ons gewerk en ons het só gepoog om die lopietempo te beperk. Die blad is ’n baie goeie een – baie beter as die blaaie in die eerste twee toetse. As ’n kolwer homself ingrawe, kan hy baie lopies slaan.”

Amir sê hoewel sy span Vrydagaand twee paaltjies verloor het, kan hulle steeds in ’n goeie posisie wees as hulle Saterdag in die eerste sessie geen paaltjies verloor nie.

Pakistan sal sy beurt Saterdag op 17/2 hervat nadat Vernon Philander (2/1) Vrydagaand laat toegeslaan het.

Meer oor:  Johannesburg  |  Pakistan  |  Wanderers  |  Proteas  |  Aiden Markram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.