Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Boucher ook tot SA krieket se redding?

Mark Boucher as nuwe Protea-afrigter, Enoch Nkwe as sy hulpafrigter en Jacques Kallis dalk as ’n kolfkonsultant.

Mark Boucher
Mark Boucher. Foto: Gallo Images

Dit word in die wandelgange van Krieket Suid-Afrika (KSA) genoem as van die eerste aanstellings wat die voormalige Protea-kaptein Graeme Smith beplan om as nuwe direkteur van krieket te maak.

Smith is Woensdag amptelik bevestig as die tydelike bekleër van dié pos. KSA het bevestig hy sal dié pos net tot die begin van 2020 se Indiese Premierliga beklee, aangesien hy reeds kontraktuele verpligtinge het om as IPL-kommentator diens te doen.

Dié T20-toernooi word tradisioneel tussen Maart en Mei beslis, wat beteken dat Smith in werklikheid vir die duur van die huidige krieketseisoen aan die stuur van sake sal wees.

Van homself ingrawe is daar vir Smith geen sprake nie. Met net twee weke oor voor die eerste toets tussen Suid-Afrika en Engeland op Tweede Kersdag in Centurion begin, gaan Smith nie net vir winde van verandering moet sorg nie, maar die krieketlandskap omtrent soos ’n orkaan moet tref, aangesien daar nog nie duidelikheid is oor wie die Proteas vir die Engeland-toer gaan afrig of kies nie.

Na verneem word is Boucher, die huidige Titans-afrigter, Smith se gunsteling vir die pos van Protea-afrigter, terwyl nog ’n voormalige nasionale speler, Victor Mpitsang, as moontlike sameroeper van die keurders bestempel word.

Nkwe, wat die Proteas as waarnemende afrigter gebrei het op hul misoes-toer na Indië, is glo ook gevra om betrokke te bly by die nasionale span en Kallis kan betrek word om die kolwers te help.

Jacques Kallis
Jacques Kallis. Foto: Gallo Images

Smith het natuurlik lank saam met Boucher en Kallis vir Suid-Afrika gespeel.

Jacques Faul, wat Saterdag as KSA se waarnemende uitvoerende hoof bevestig is, het in ’n verklaring gesê hy is “baie bly om Graeme se aanstelling te bevestig”.

“Graeme het die laaste paar maande sekere bekommernisse gehad, maar ek is bly om te kan sê ons het dít oorkom. Ek sien daarna uit om saam met hom te werk,” sê Faul in die verklaring.

“Graeme is statisties gesproke die suksesvolste toetskaptein in die geskiedenis. Hy is ’n natuurlike leier en sy kennis van die spel is aan niemand s’n ondergeskik nie. Om hom aan boord te hê om te help met die bestuur van beroepskrieket, sowel as ons toevoer van toekomstige spelers, is ’n reusehupstoot vir krieket in die land.”

Graeme Smith. Foto: Getty Images

Smith het gesê hy het verskeie kere beklemtoon hy wil KSA in hierdie moeilike tyd help.

“Ek is so passievol soos altyd oor SA krieket en ek sien uit daarna om te begin in die nuwe pos. Daar wag baie harde werk, maar my doelwit is om ’n positiewe invloed in my tyd in die pos te maak,” sê Smith.

Faul se vergadering met Smith was nie Woensdag sy enigste agenda-item vir die dag nie. Die KSA-hoof het ook later met die Spelersvereniging (Saca) vergader om die verhouding tussen dié partye te begin herstel.

KSA en Saca is steeds in ’n hofgeskil gewikkel oor die herstrukturering van beroepskrieket in Suid-Afrika. Na verneem word het KSA se lederaad, wat uit die 14 provinsiale presidente bestaan, Vrydagaand besluit om nie die beoogde herstrukturering te herroep nie, maar eerder met Saca daaroor te praat.

Saca het KSA juis hof toe gesleep omdat hulle nie gekonsulteer is oor die besluit nie en KSA ook nie tersaaklike inligting daaroor wou beskikbaar stel nie.
Meer oor:  Graeme Smith  |  Mark Boucher  |  Jacques Faul  |  Jacques Kallis  |  Enoch Nkwe  |  Direkteur Van Krieket  |  Proteas  |  Ksa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.