Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Markram, Mulder wys daar is kolfhoop

Wiaan Mulder en Aiden Markram het Donderdag besluit tot hier toe en nie verder nie: Nou sal ons vir almal wys Suid-Afrikaanse kolwers kán lopies in Indië aanteken!

Wiaan Mulder vir die graafskapspan Kent in aksie. Foto: Getty Images

Markram het eindelik weer die middel van sy kolf gevind en met ’n briljante beurt van 161 lopies van voor af gelei in die Suid-Afrikaanse A-span. Dié beurt, tesame met Mulder se ewe indrukwekkende 131*, het die Suid-Afrikaanse naasbestes gehelp om ’n eerstebeurt-telling van 400 aan te teken op dag drie van die tweede vierdagwedstryd teen Indië se naasbestes in Mysore.

Die A-span se eerstebeurttelling was net-net minder as Indië se eerstebeurt-telling van 417. Die tuisspan moes Donderdag ses boulbeurte oorleef en het tot 14/0 gevorder teen uitskeityd.

Die Indiërs het nou ’n voorsprong van 31 lopies. Die kans is goed dat dié wedstryd Vrydag op die laaste dag onbeslis gaan eindig.

En dit is aan Markram en Mulder se skitterende kolfwerk te danke dat die naasbestes ’n kans staan om nóg ’n nederlaag op hul toer in Indië vry te spring.

Markram het gesukkel in die eerste vierdagwedstryd en tellings van 0 en 4 aangeteken. Hy het boonop ’n teleurstellende Wêreldbeker-toernooi beleef en verlede jaar in die Proteas se toetsreeks in Sri Lanka kleigetrap.

Dít het die siening versterk dat hy teen draaiers so ontuis soos ’n vis in die woestyn is. Die beurt wat hy egter in dié vierdagwedstryd gespeel het, sal die hoop laat opvlam dat hy tog ’n invloed op die Proteas se reeks van drie toetse teen Indië in Oktober kan hê.

Nie een van Indië A se drie draaiers, Shahbaz Nadeem (3/76 in 31.3 boulbeurte), Kuldeep Yadav (4/121 in 29 bbe.) of Jalaj Saxena (0/13 in 5 bbe.) kon hom uitkry nie.

Aiden Markram vroeër vanjaar vir Hampshire in die Engelse graafskapreeks in aksie. Foto: Getty Images

Markram het sy paaltjie ná 253 aflewerings voor die penne aan die sneller Mohammed Siraj (2/72 in 18 bbe.) afgestaan.

Die 21-jarige Mulder, wat nie in die toetsgroep is nie, het ’n vennootskap van 155 met sy kaptein gedeel. Toe Markram uit is, met die naasbestes se telling op 297/6, het Mulder slim saam met die stert gekolf om sy span tot naby aan Indië A se telling te kry.

’n Honderdtal teen ’n goeie Indiese boulaanval in Indiese toestande sal Mulder se selfvertroue ongelooflik goed doen. Hy het boonop met die bal ook geskitter en syfers van 3/47 in 22 beurte in die Indiërs se eerste kolfbeurt behaal.

Mulder het nou boonop ’n herinnering aan die Protea-keurders gestuur dat hulle hom gouer liewer as later weer by die toetsgroep moet betrek. Hy is ’n volwaardige veelsydige speler.

Ná jare se kleitrappery deur Suid-Afrikaanse kolwers in Indiese toestande, is dié twee beurte uiters welkom. Dit beteken uiteraard nie Suid-Afrikaanse kolwers voel nou tuis op die subkontinent nie, maar dit is ’n bewys dat hulle wel kan hond haaraf maak – mits hulle bereid is om hard te werk.

Nou moet die Proteas hulle dit in Oktober net nadoen.

Meer oor:  Wiaan Mulder  |  Sa A-Krieketspan  |  Aiden Markram
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.