Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Proteas by die WB: Markram vs. Amla

Wie Quinton de Kock se openingsvennoot moet wees by die komende Wêreldbekertoernooi is een van die min twispunte oor die Proteas se sterkste elftal. Rapport se skrywers het met ’n paar voormalige Protea-spelers gepraat en alhoewel die meeste Aiden Markram in hul elftal het, is daar ’n paar koppe wat Hashim Amla kies. Oor die res is daar taamlik ooreenstemming.

Ek soek ’n kaartjie na die Wêreldbeker-toernooi! Aiden Markram Saterdag in aksie op Nuweland. Foto: Gallo Images

Paul Harris:

Paul Harris, gewese linksdraaibouler van die Proteas, het geen groot probleme met die SA Wêreldbekergroep wat Donderdag aangekondig is nie.

“Reeza (Hendricks) het nie heeltemal genoeg gedoen nie, het hy? En volgens dieselfde maatstaf dink ek ook nie jy kan iemand van Hash (Hashim Amla) se gehalte by die huis los nie. So ek dink die keurders was taamlik na aan in die kol.

“My enigste ander verandering – en daaroor was ek nogal uitgesproke – is dat ek eerder vir Chris Morris sou gekies het as vir Dwaine Pretorius, maar dit het nie gebeur nie.”

Wat betref die kolfvolgorde vir die Proteas se eerste Wêreldbekerwedstryd, teen Engeland op 30 Mei, glo Harris vas die kaptein, Faf du Plessis, moet op nommer drie kolf. Volgens Harris is dit sy beste posisie, terwyl Rassie van der Dussen en Aiden Markram sake moet uitspook vir nommer vier.

“Ek is baie bly hulle het Markram gekies. Hy het die X-faktor en jy kan hom nie uit die span laat nie. Hy speel tans graafskapskrieket (vir Hampshire) om te akklimatiseer en hy is, buiten vir Quinnie de Kock, die een man in die toporde wat ’n wedstrydwenner is.”  – Luke Alfred

HARRIS SE ELFTAL:  De Kock, Amla, Du Plessis, Markram/Van der Dussen, JP Duminy, Miller, Phehlukwayo, Steyn, Rabada,  Ngidi, Tahir.

Fanie de Villiers:

Hashim Amla se ervaring as senior speler is goud werd vir die Proteas, maar hy hoort nie in die beginspan nie.

Só sê Fanie de Villiers, oud-snelbouler van die Suid-Afrikaanse krieketspan, oor die ietwat omstrede insluiting van die 36-jarige Amla in die span na die Wêreldbekertoernooi.

“Amla is ’n risiko en hy het baie om te bewys. Hy is goed as ’n senior in die span, maar ek hoop nie hy is in die beginspan nie,” sê De Villiers (54).

Die Protea-keurders het die afgelope week hul groep van 15 spelers aangewys wat Suid-Afrika van 30 Mei af in Engeland en Wallis gaan verteenwoordig.

Vir Amla, wat die laaste tyd ’n lopiedroogte beleef, maar met ’n gemiddeld van 49.74 in 174 eendagwedstryde spog, was daar plek, maar nie vir Reeza Hendricks nie.

“Jy moet sielkundig baie sterk wees om in ’n toernooi soos die Wêreldbeker te speel. As daar van Amla verwag word om ’n vertoning van 120% te lewer, kan hy dit nie doen as sy spelpeil swak is nie.

“Gaan kyk gerus maar wat het Amla by die vorige Wêreldbekertoernooi (in 2015 in Australië en Nieu-Seeland) gedoen,” sê De Villiers, wat tussen 1992 en 1997 in 83 eendag-wedstryde vir Suid-Afrika gespeel het.

Amla het weliswaar daar ’n kolfgemiddeld van 41.62 gehad, maar dit het 159 teen Ierland, 65 teen die Wes-Indiese Eilande en 38 teen Pakistan ingesluit.

Teen Zimbabwe (11), Indië (22), die Verenigde Arabiese Emirate (12), Sri Lanka (16) en Nieu-Seeland (10) was sy bydrae maar gering.

De Villiers voel sterk daaroor dat die veelsydige Chris Morris homself bitter jammer kan ag dat hy nie die groep gehaal het nie.

“Ek sou Morris gevat het bo iemand soos Nortjé (die snelbouler Anrich Nortjé). Die ander ouens in die groep is nie regtig iemand wat ’n wedstryd kan beklink nie.

“Ek dink die keurders het die groter prentjie misgekyk.” 

Gevra hoe sy elftal vir die Proteas se eerste wedstryd op 30 Mei teen Engeland op die Oval in Londen sal lyk, sê hy dat hy Amla, Nortjé, Tabraiz Shamsi en Dwaine Pretorius op die kantlyn sal hou.

En dat Aiden Markram en Quinton de Kock die kolfbeurt sal begin. – Marnus Kok

DE VILLIERS SE ELFTAL: Aiden Markram, Quinton de Kock, Rassie van der Dussen, Faf du Plessis, JP Duminy, David Miller, Andile Phehlukwayo, Dale Steyn, Lungi Ngidi, Kagiso Rabada en Imran Tahir.

Omar Henry:

Hy sou eerder vir Reeza Hendricks by die groep ingesluit het en die draaier Tabraiz Shamsi by die huis gelos het omdat Imran Tahir en JP Duminy die draaiers-taak in Engeland kan verrig.

Só het Omar Henry, voormalige Proteas-speler en nasionale keurder, gesê oor die Proteas se groep vir die Wêreldbeker.

Henry is wel baie bly dat Ha­shim Amla nie oor die hoof gesien is nie omdat die bebaarde Proteas-strydros “slegs een beurt weg is” om sy kolfpeil te herwin.

“Die feit dat die keurders hul vertroue in hom geplaas het, is ’n goeie ding,” het Henry gesê.

“Hulle weet wat Amla kan doen met ’n krieketkolf en behalwe vir wat hy op die veld kan doen, bring hy ook daardie ervaring en rustigheid na die kleedkamer. Hy sal ook sy beste wil gee, omdat dit sy laaste Wêreldbekertoernooi gaan wees.

“Die keuse van Dwaine Preto­rius is ook ’n goeie een. Hy is ’n veelsydige speler wat met die kolf uitblink en hier in Suid-Afrika smag ons na so ’n speler. Die persoon wat besluit het om hom onlangs teen Sri Lanka vroeër in die kolforde te laat speel, verdien ’n klop op die  skouer. Tahir is ook ’n wedstrydwenner en hy gaan moontlik elke wedstryd speel as daar nie beserings is nie. Duminy sal tien teen een ook al die wedstryde speel. Hy is ’n senior, ervare, sy veldwerk is goed en hy kan draaiballe afstuur.

“Die kans is skraal dat al drie draaiers ingespan gaan word en nog skraler dat Tahir en Shamsi in een span gekies gaan word. Geeneen van hulle kan werklik kolf nie en dit kan druk op die kolflys plaas as hulle albei ingespan word.”

Die kolflys is dié aspek van die Proteas se mondering wat Henry voel die meeste getoets gaan word. Hy glo as hulle die dag op alle silinders vuur, sal die span moeilik gestuit word. Met die boulers, sê hy, skort daar nie veel nie en soos gewoonlik sal hulle die aanslag vir die span lei.

“Ons kolwers se rekord spreek vanself. Kyk maar na Quinton (de Kock), Faf (du Plessis), JP, Hashim en tot ’n mindere mate David Miller. Daar is ook groentjies soos Aiden Markram, Andile Phehlukwayo en Rassie van der Dussen wat ’n naam vir hulself kan maak. 

“Dit was ook ’n meesterskuif van die keurders om Miller as die plaasvervanger-paaltjiewagter in te sluit.” – Leighton Koopman

HENRY SE ELFTAL: Hashim Amla, Quinton de Kock, Faf du Plessis, Rassie van der Dussen, JP Duminy, David Miller, Andile Phehlukwayo, Kagiso Rabada, Dale Steyn, Lungi Ngidi, Imran Tahir. 

Adam Bacher:

Met sy ongelooflike veggees en die manier waarop hy sy spelers bymekaar kan bring, hou Faf du Plessis, die Protea-krieketkaptein, vanjaar die sleutel tot Suid-Afrika se Wêreldbekerdroom.

Só reken die oud-Proteakolwer Adam Bacher, wat nes ander oud-Proteaspelers meen dat Suid Afrika ’n sterk span na die Wêreldbeker in Engeland stuur.

Volgens Bacher sal alles afhang van die toestande wat op die Proteas wag. Bacher glo die kolfblaaie gaan vriendeliker vir kolwers wees. 

“As jy dink ons het ’n paar probleme met die span se balans, kan ek sê dit is regtig ’n baie goeie span. 

“Dis dalk nie op papier so mededingend soos dié van Engeland, Australië of die Wes-Indiese Eilande nie, maar dit is ’n groep baie goeie spesialiste. Ek kan verstaan dat mense bekommerd is dat ons dalk een kolwer te min in die groep het en dat ons nie veel verskeidenheid in die span het nie.

“Die groot pluspunt vir die span is dat ons kaptein baie beter is as in die laaste Wêreldbekertoernooi. Terwyl ons in 2015 met ’n meer ervare kolflys na die toernooi gegaan het, het ons tans ’n beter kaptein vir die span. Hy is baie skerp en sy grootste bate is die manier waarop hy sy spelers kan saambring om die beste uit hulle uit te kry. Faf kan die beste uit die span kry.”

Bacher voel die negatiewe aspek van die groep gaan oor die span se balans.

“Dis nie die beste moontlike balans nie, maar dis soortgelyk aan dié van 2015, toe ons ook probleme met balans gehad het.

“Die kolfblaaie sal bepaal hoe suksesvol ons is en hulle kan baie vriendelik teenoor kolwers wees. Mense vergeet dit. As die kolfblaaie droog is, sal ons miskien twee draaiboulers moet speel. Een van die grootste vrae gaan oor JP Duminy wees – sal sy boulwerk die mas opkom en hoe gaan sy kolfwerk verloop?”

Bacher glo Hashim Amla se ervaring het hom net-net bo Reeza Hendricks sy plek besorg.

“Ek dink as Reeza meer ervare was en meer graafskapskrieket gespeel het, sou hy gekies gewees het. Dis waar die Australiërs goed vaar. 

“Al is Hash nie op die oomblik die beste in sy loopbaan nie, dink ek die keurders wou nie onervare spelers na so ’n groot toernooi neem nie.” – Brenden Nel

BACHER SE ELFTAL:   Markram, Quinton de Kock, Faf  du Plessis, Rassie van der Dussen, David Miller, JP Duminy, Andile Phehlukwayo, Duane Pretorius, Dale Steyn, Kagiso Rabada, Imran Tahir.

Geoffrey Toyana:

Die voormalige afrigter van die Gauteng Lions, Geoffrey Toyana, kies Hashim Amla as Quinton de Kock se aanvangsvennoot in sy beste SA-elftal vir die Wêreldbeker. Toyana, glo die ervaring van Amla kan nog baie vir die span beteken.

“Dit is ’n goeie span met ’n goeie mengsel ervaring en jeug. Daar sal altyd iemand wees wat ongelukkig is om dit nie te maak nie. Ek is verras met Anrich Nortjé se insluiting, maar hy sal ons die nodige vaart gee.” – Brenden Nel

 TOYANA SE ELFTAL IS:  Hashim Amla, Quinton de Kock, Faf du Plessis, Rassie van der Dussen, JP Duminy, David Miller, Andile Phehlukwayo, Dale Steyn, Kagiso Rabada, Imran Tahir, Lungi Ngidi.

Boeta Dippenaar:

Reeza Hendricks het sy kanse verspeel om die Suid-Afrikaanse krieketspan by die Wêreldbekertoernooi te verteenwoordig.

Dít is die mening van Boeta Dippenaar, voormalige Protea-kolwer, wat gepols is oor die samestelling van die nasionale krieketspan wat van aanstaande maand af aan die Wêreldbekertoernooi in Engeland en Wallis gaan deelneem.

“Hy (Hendricks) het geleenthede gehad en met tye gewys hy kan speel, maar hy het dit nie na ’n volgende vlak geneem nie,” sê Dippenaar (41). 

Gevra hoe sy elftal vir die eerste wedstryd teen Engeland sal lyk, is hy met die uitsondering van een posisie doodseker van hoe hy sy span sou kies.

“Ek sou Philander graag op nommer agt in die kolflys wou sien. Die samestelling van die span hang natuurlik baie af van die weerstoestande. 

“As dit nat gaan wees, dink ek spanne van die subkontinent gaan sukkel,” sê Dippenaar. – Marnus Kok

DIPPENAAR SE ELFTAL: Aiden Markram, Quinton de Kock, Rassie van der Dussen, Faf du Plessis, JP Duminy, David Miller, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Dale Steyn, Kagiso Rabada en Imran Tahir.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.