Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Ma’s moedig hul dogters aan om te speel’

’n Dekade of meer gelede sou dit dalk effens ongehoord vir ’n meisie gewees het om krieket te speel, maar deesdae is daar ma’s wat hul dogters juis aanmoedig om dié sport te beoefen.

Yolani Fourie in aksie vir Gauteng tydens ’n kragmeting in 2019 in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

Dit is die mening van Yolani Fourie (31), kaptein van die Gautengse vrouekrieketspan. Sy het die Proteas in 15 eendag-, 10 T20-wedstryde en ’n enkele toets tussen 2014 en 2018 verteenwoordig.

“Een van die positiewe aspekte is dat vrouekrieket deesdae meer ernstig opgeneem word. Daar is ’n klomp jong meisies wat speel, maar hul vaardighede is nie altyd wat dit moet wees nie.

“Ek dink die rede daarvoor is omdat seuns met ’n kolf en die bal in die hand gebore word, terwyl die meeste meisies eers op hoërskool begin speel,” sê Fourie.

Yolani Fourie is die kaptein van die Gauteng-vrouespan. Foto: Getty Images

“Ek het saam met my broer in die tuin gespeel en toe eers in gr. 8 die sport begin beoefen. Maar daar is baie skole hier in Gauteng wat krieket vir meisies aanbied en dit verbeter uit die aard van die saak hul vaardighede.

“Deesdae sien jy dat ma’s hul dogters aanmoedig om krieket te speel om die eenvoudige rede dat hulle daaraan blootgestel word.”

Een van die redes hoekom vrouekrieket deesdae groter blootstelling in Suid-Afrika geniet, is oor die goeie vertonings wat die nasionale span gelewer het – voordat die Covid-19-pandemie sake bemoeilik het. Ook duik die name van Protea-spelers soos Laura Wolvaardt en Marizanne Kapp deesdae gereeld in gesprekke op.

“Toe ek begin het, was dit moeilik. As ons wedstryde in ander provinsies gaan speel het, en ons het ons sweetpakke aan, dan sou mense vra watter sport ons beoefen. As ons dan antwoord ‘krieket’, was hulle so verbaas,” onthou Fourie.

Laura Wolvaardt in aksie tydens die T20-Wêreldbeker-toernooi in Australië. Sy is een van die spelers wat daarvoor verantwoordelik is dat daar deesdae groter belangstelling in vrouekrieket is. Foto: Getty Images

“Deesdae is dit anders. As mense ons nou raakloop, dan sal hulle begin vertel dat hulle die ander dag ’n wedstryd gesien het waarin dit of dat gebeur het.”

Fourie het ook in haar werkomgewing gesien dat seuns vrouekrieket volg. Sy is ’n Afrikaansonderwyseres by King Edward VII Preparatory School (KEPS) in Johannesburg en rig ook dié skool se o.11-span af.

“By my skool kyk die seuns op na my en hulle volg ook krieket. Tydens die Wêreldbeker-toernooi (die vroue se T20-WB in Australië) vroeër vanjaar het hulle gevra: ‘Juffrou, hoekom speel jy nie?’ Dit beteken dat hulle vrouekrieket volg en van kleins af daaraan blootgestel word.”

Meer oor:  Krieket  |  Vrouekrieket  |  Vrouesport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.