Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
McKenzie nie bitter ná hy trekpas kry

Daar is geen bitterheid by Neil McKenzie omdat hy die deur gewys is as die kolfafrigter van die Suid-Afrikaanse krieketspan nie.

Neil McKenzie (links) en Charl Langeveldt, wat die deur gewys is by die Proteas. Foto: Gallo Images

McKenzie het Vrydag gesê die rede hoekom hy uitgeskuif is, gaan eerder oor getalle as wat dit iets te doen het met sy vertoning as afrigter.

“Daar is net nie plek in die nasionale opset vir my, Dale Benkenstein én Claude Henderson nie. In die land waarin ons leef, is dit nou maar iets wat jy moet aanvaar.

“Daar is ook openlik en eerlik met my gepraat en ek het geweet wat die situasie is. Uiteindelik is ek die een wat ingeboet moes word en ek aanvaar dit so.

“Dale (Benkenstein, wat hom vervang as kolfafrigter) sal ’n aanwins vir die nasionale span wees.

“Hy en Ottis Gibson (die afrigter) het ook ’n goeie verhouding opgebou in die Engelse graafskapliga. Ek dink ook dit was ’n goeie besluit om Malibongwe Maketa as assistentafrigter aan te stel.

“Hy is ’n goeie ou en baie gemotiveerd. Ek het saam met hom by die nasionale akademie en die Suid-Afrikaanse A-span gewerk, en hy is ’n afrigter wat ’n indruk op jou maak,” sê McKenzie.

“Die boodskap wat ek en Langes (Charl Langeveldt) gekry het, is dat hulle (Krieket Suid-Afrika) steeds van ons dienste gebruik wil maak en dat ek dalk gebruik sal word om veral die volgende geslag jong, swart kolwers te mentor.

“Ek het ook al aanbiedinge van oorsee gekry, maar is baie lief vir Suid-Afrika en sal graag hier wil bly, maar ek het ook ’n jong gesin aan wie ek moet dink.

“Ek gaan egter nou eers ’n maand lank afvat. Dit is die eerste keer in jare dat ek ’n Desember gaan afhê en nie by krieket betrokke gaan wees nie. My vrou (Kerry) het al klaar allerlei dinge beplan wat ek moet doen.”

Ons het die geslag kolwers wat ná die huidige groep sou volg (Stiaan van Zyl, Dane Vilas, Colin Ackermann en Colin Ingram) aan die Kolpak-stelsel afgestaan, maar ek glo daar sal nooit ’n tekort aan goeie jong kolwers in die land wees nie.

Hy sê hy het die afgelope twee jaar waarin hy die kolfafrigter van die nasionale span was baie geniet en voel hy het sy deel gedoen om die kolwers te help verbeter.

“Ek voel baie jammer vir Heino Kuhn omdat hy sy toetsdebuut in Engelse toestande moes maak wat Alastair Cook ook beskryf het as van die moeilikste wat hy tot nog toe daar ervaar het.

“Dit is ook jammer dat Stephen Cook met drie honderdtalle so min geleenthede gegun is.

“Ons het die geslag kolwers wat ná die huidige groep sou volg (Stiaan van Zyl, Dane Vilas, Colin Ackermann en Colin Ingram) aan die Kolpak-stelsel afgestaan, maar ek glo daar sal nooit ’n tekort aan goeie jong kolwers in die land wees nie.

“Daar is Aiden Markram en Theunis de Bruyn wat reg is om hul plek vol te staan,” sê hy.

McKenzie dink wel daar is ’n leemte wat betref goeie, jong swart kolwers en dat Temba Bavuma kop en skouers bo die res uitstaan, met die KwaZulu-Nataller Khaya Zondo die beste wat eendagkrieket betref.

“Ek glo dit is belangrik om na ’n kolwer se gemiddelde te kyk wanneer daar oorweging geskenk word vir die nasionale span.

“Daarom moet veral van die jong, swart kolwers gementor word om aanspraak te kan maak op ’n plek in die nasionale span.”

Meer oor:  Neil Mckenzie  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.