Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Medici help KSA korona-risiko’s ontleed

Spelers se veiligheid in die era van die Covid-19-pandemie word voorop gestel in Krieket Suid-Afrika (KSA) se beplanning om die spel later vanjaar plaaslik te hervat.

KSA het Donderdag op ’n aanlyn nuuskonferensie verskeie planne bespreek om spelers weer terug op die veld te kry.

Dr. Shuaib Manjra, die hoof van KSA se Covid-19-taakspan, het gesê die veiligheid van alle spelers, amptenare en die breër samelewing is die belangrikste kwessie in hul beplanning.

Dr. Shuaib Manjra, die hoof van Krieket Suid-Afrika se Covid-19-taakspan. Foto: Gallo Images

“Ons doelwit is om spel terug te bring op ’n manier wat ons spelers en die breë krieketgemeenskap se veiligheid en gesondheid beskerm.”

Die regering sal egter besluit wanneer krieket weer gespeel kan word.

“Ons sal ’n proses volg wat in fases werk. Dit sal deur die regering se inperkingsmaatreëls bepaal word,” sê Manjra.

Volgens hom hou die hervatting van die spel vanuit ’n gesondheidsoogpunt drie kritieke risiko’s in:

“Die eerste een is die moontlike verspreiding van die siekte onder ons spelers en die krieketgemeenskap. Of dalk nog erger, ons spelers skep ’n brandpunt vir infeksies en steek mense in die gemeenskap aan.

“Die tweede risiko is dat ons spelers kwesbaarder is vir gewone krieketbeserings. Ons spelers is vir die laaste twee maande ingeperk en hulle kon nie voluit oefen nie.

“En die derde risiko, vir my die kritieke een, is die invloed wat die virus (by spelers wat dit onder lede gehad, maar herstel het) op die langtermyngesondheid van spelers gaan hê.”

Manjra het gesê KSA praat met sportfederasies wêreldwyd om te kyk hoe hulle dié probleme kan aanpak. Die Engelse en Walliese Krieketraad, die Duitse Bundesliga en die Spaanse topliga, La Liga, is maar net van die liggame wat geraadpleeg is.

Wat die spelers se fiksheid betref, monitor KSA tans sy gekontrakteerde spelers op ’n weeklikse grondslag.

“Ons glo egter hulle gaan minstens ses weke intens moet oefen om die fiksheid te herwin wat nodig is om in wedstryde kan speel.”

Manjra sê die derde risiko is die uitdagendste een.

“Wat doen ons as ons spelers wel die virus opdoen? Ek het geen twyfel dat dit met baie van ons spelers gaan gebeur nie. Wanneer is dit veilig vir hulle om terug te keer na die spel? En deur watter risiko’s word hulle dan in die gesig gestaar?

“ ’n Selfs moeiliker vraag is wat die risiko’s is vir spelers wat die virus opdoen, maar geen simptome toon nie. Hoe gaan ons hulle bestuur en wat is die risiko vir hul gesondheid as hulle weer begin speel?

“Ons het derhalwe ’n paneel kenners byeengebring om dit te ondersoek. Dr. Ntobeko Ntusi, ’n vooraanstaande mediese geleerde van die Universiteit van Kaapstad, is die voorsitter van dié paneel.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Ksa  |  T20  |  Toetskrieket  |  Plaaslike Krieket  |  Eendagkrieket  |  Krieket Suid-Afrika  |  Proteas  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.