Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Marizanne Kok gesels met Jacques Faul
Jacques Faul: Meneer Hospital Pass
Krieket se Gesig van Hoop is gewoond aan taai uitdagings

Toe Jacques Faul verlede Saterdag in die rustigheid van die Eikestad wakker word, het hy ’n dag soos enige ander verwag.

Hy sou vinnige ontbyt eet, regmaak vir sy vlug terug Johannesburg toe en op die vliegtuig waarskynlik sit en wonder watter stappe Krieket Suid-Afrika later die dag sou aankondig om hul brandende motorwrak van ’n organisasie nader aan padwaardig te probeer kry.

Jacques FaulFoto: gallo

Min het hy geweet hy sou net ná drie-uur daardie middag op ’n nuuskonferensie van KSA as Brandbestryder Nommer Een aan die wagtende media uitgelewer word.

“Ja, dit het seker al beter met my gegaan,” sug-lag Faul ses dae later, in ’n handjievol rustiger minute tussen die vergaderings wat sy hele week oorgeneem het. “Moenie laat die lag jou flous nie, ek dink dis net senuwees.”

Vir die warm stoel waarin Faul gegooi is toe hy verlede Saterdag instem om krieket se gesig van hoop ná ’n week van absolute chaos te word, is dié oud-Klerksdorper geen vreemdeling nie. In 2011 het die KSA-ringkoppe hom ook as waarnemende uitvoerende hoof aangestel nadat Gerald Majola met sy hand in die IPL-geldkluis gevang is. Toe het hy vier maande uitgehou voordat hy terug is na die rustigheid van sy Titans-joppie.

Gelukkig dat hy darem al voorheen sy kop in die spesifieke leeu se bek gedruk het, sê hy Vrydag. Die lesse wat hy toe geleer het, het hierdie week goed te pas gekom.

“Ten minste het ek dié keer geweet waarvoor ek my inlaat. Wat ek destyds geleer het, is dat dinge wel kan verander, dat jy met die regte stappe wel kan sorg dat dit weer beter gaan. Maar ’n mens moet ook onthou dat hier sprake is van ’n paar komplekse kwessies wat tyd gaan vat om uit te sorteer. Ons doen die dinge wat vinnig gedoen kan word so vinnig as moontlik, maar ons moet perspektief behou. Nie alles gaan eensklaps in plek val nie.”

Terwyl die publiek die afgelope week rustiger geraak het, het Faul se rustigheid heeltemal verdamp. Hy moes borge paai, KSA weer by ’n vriendelike verhouding met die Spelersvereniging (Saca) probeer kry, saam met die raad gaan mooi broodjies bak by die minister van sport . . .

“Jy moet onthou, dis een ding om gesprekke met almal te reël, maar dis ’n heel ander saak om die ou oorkant jou te oortuig jy is op die regte pad. Dís ons groot uitdaging, om almal weer aan ons kant te kry en te sê ons verstaan jul bekommernisse, maar hier is wat ons gaan doen. Op ’n eerlike manier,” sê Faul.

“Kyk na die situasie met Saca. Daar het baie dinge skeefgeloop tussen Saca en KSA en die vertroue is erg geskend, maar ons wíl met hulle ’n pad loop. Ons wil hulle terug aan ons kant hê. Gelukkig was hulle bereid om na ons te luister en te praat oor ’n pad vorentoe.”

Net so is die tyd ryp vir ’n verandering in my lewe. Ek sal graag wil aanhou ­afrig op die toer.

Nie almal is natuurlik altyd ewe tevrede met nuwe besems nie, en ’n mens wonder of Faul oral ewe gul ontvang is.

Hy lag net oor die vraag of hy die afgelope week enige onsmaaklike verrassings gehad het.

“Ag, enige tyd dat jy in ’n rol soos dié instap, maak jy jou maar reg vir die wolwe,” sê hy.

Hoe hard die wolwe die laaste week voor sy deur gehuil het, sê hy nie, maar dis duidelik dat almal wat oor sy drempel getree het, hom nie beïndruk het nie.

“Daar is ’n paar ouens daar buite wat die probleme probeer aanblaas om te kyk wat hulle vir hulself uit die chaos kan kry, en ’n mens moet maar bekommerd wees as ouens ewe skielik vreeslik begin belang stel. Dis seker maar die aard van die dier, veral op nasionale vlak. Terselfdertyd is daar darem goeie mense ook, mense wat raad gee en uitvra omdat hulle regtig lief is vir krieket en wil sien dat dinge begin beter gaan,” sê hy.

In daardie groep mense wat “regtig lief is vir krieket” sluit Faul homself sonder huiwering in.

Dit is hoekom hy is waar hy is, sê hy, as administrateur wat buite die grenstoue vure doodslaan sodat ander ouens binne die toue kan vuurwerk lewer.

“Hulle sê jy beland net in administrasie as jy nie goed genoeg is om dit as krieketspeler te maak nie,” spot Faul met homself. “Soos enige ander outjie het ek ook gedroom om vir Suid-Afrika te speel. Ek het daar in Klerksdorp begin klubkrieket speel en het die Wes-Transvaal-span gehaal, maar uiteindelik het die lewe my gedruk na afrigting, en van daar af na administrasie.”

Faul was net 26 toe hy as president van die Klerksdorp-krieketklub aangewys is en in sy vroeë dertigs toe die Noordwes-krieketunie hom in 2003 as uitvoerende hoof aanwys.

Ná nege jaar in dié posisie het die Titans hom Pretoria toe gelok. Die sukses wat die unie sedertdien behaal het – op die veld en in die raadsale – het Faul se reputasie sodanig gestu dat hy al selfs aanbiedinge van die rugbyunies van die Haaie en Bulle gehad het.

In Suid-Afrikaanse krieket word hy wyd en syd as die beste uitvoerende hoof in die sport beskou. Maar jy sal hard moet druk voordat hy sy stem by daardie koor voeg.

“Ag, ek is maar ’n ou wat plat op die aarde is, ek is nog steeds net Jacques’ie van Klerksdorp,” skerm hy. “Ek is dalk nie so gesofistikeerd soos baie ander mense nie, maar ek is wie ek is.

“Ek het maar ’n nederige agtergrond en ek dink dit help my nogal in hoe ek dinge benader. Ek glo jy moet getrou aan jouself bly. Dit is al hoe jy ware sukses kan behaal. Moenie verander wie jy is nie.”

En tog, gee hy toe, is hy nie meer heeltemal dieselfde ou as die melkbaard wat destyds oor internasionale krieket gedroom het nie.

“Leierskap maak jou hard,” sê hy. “Dis een ding wat ek van my beroep kan sê – en dit kan nie anders nie. Jy moet besluite neem, jy word verantwoordelik gehou vir belangrike dinge . . . daar is eenvoudig dinge wat jy nie gedoen kan kry as jy nie jou rug kan styfmaak nie.”

Die stywerug-benadering kan natuurlik maklik oorslaan in ’n diktatoriale benadering, maar Faul maak dit duidelik dat hy nie in sy huidige rol sy vingers in elke paai wil druk nie.

Die aanstelling van die Proteas se afrigtingspan, wat gister aangekondig is, het hy in sy geheel oorgelaat aan die voormalige Protea-afrigter, Graeme Smith, nuwe direkteur van krieket.

“Ons het hom daardie mandaat gegee, so ons moet hom vertrou om die regte keuses te maak,” sê Faul. “Ek was op my dag ’n heel orraait snelbouler vir Klerksdorp, maar kom ons laat die besluite oor wat op die veld self gebeur eerder aan ouens soos Graeme oor.”

Of hy dié keer, anders as in 2011, van waarnemende tot permanente uitvoerende hoof sal vorder, sal net die tyd leer.

“Ek hou eintlik nogal van hierdie tussentydse joppies, dan kan ek ná die tyd teruggaan na kalmer waters,” het hy verlede week tong-in-die-kies gesê.

Maar dalk voel hy eersdaags anders daaroor as hy KSA se waters ook kan kalmer maak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.