Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Met Muthusamy en Piedt is SA gerat vir Indië
Senuran Muthusamy het 21 paaltjies in 13 beurte in die meerdagreeks platgetrek. Foto: Gallo Images

Veelsydige krieketspelers moet gewoonlik kies watter dissipline – kolfwerk of boulwerk – betaal vir hul huis en wat betaal vir hul vakansiehuis, sê die voormalige Dolphins-afrigter Grant Morgan.

Met die heel bestes, soos Jacques Kallis, was dít nie die geval nie. Ook nie met Senuran Muthusamy, een van die nuwelinge in die Proteas se toetsgroep nie.

“Sy kolfwerk én boulwerk kan eintlik vir sy huis betaal,” sê Morgan.

Met dié metafoor sê Morgan gewoon die draaier Muthusamy is ’n volwaardige veelsydige speler – sy kolfwerk en boulwerk is ewe goed, enigeen van die twee dissiplines kon alleenlik ook sy brood-en-botter wees.

Die 25-jarige Muthusamy is by die Proteas se groep ingesluit vir hul reeks van drie wegtoetse in Oktober teen Indië. Hy is as die derde draaier saam met Keshav Maharaj en Dane Piedt gekies.

Morgan, wat die Dolphins onlangs verlaat het om hom as ’n breier by Skotland aan te sluit, sê Muthusamy moet nou net self besef hy is ’n volwaardige veelsydige speler.

“Hy moet dit omarm,” sê Morgan.

Hy moet leer om sy draaiballe net soveel soos ’n verdedigende hou te geniet, ’n leë aflewering net soveel soos ’n dryfhou deur die dekke.
Grant Morgan

“Ek dink hy geniet ’n honderdtal meer as ’n oes van vyf paaltjies. Hy moet leer om sy draaiballe net soveel soos ’n verdedigende hou te geniet, ’n leë aflewering net soveel soos ’n dryfhou deur die dekke.”

Só veelsydig is Muthusamy, dat hy selfs die kolfbeurt vir die Dolphins begin het ’n paar seisoene gelede.

“Daar het hy skitterend gevaar. Hy het ook, veral as Keshav nie beskikbaar was nie, baie geboul. Daar was wedstryde waarin hy 25 beurte geboul het en daarna die kolfbeurt begin het.

“Nietemin was sy boulgemiddeld vir die eerste paar seisoene die heeltyd baie laer as sy kolfgemiddeld, wat uitstaande vir ’n veelsydige speler is.”

Kyk jy na sy eersterangse syfers, kan jy sien waarom Morgan hom uit-en-uit as ’n veelsydige speler bestempel. Sy kolfgemiddelde is 33.41 en hy het reeds sewe honderdtalle en 18 vyftigtalle in 67 wedstryde op sy kerfstok. Sy boulgemiddeld is 27.68.

Corrie van Zyl, Krieket Suid-Afrika (KSA) se waarnemende direkteur van krieket, sê hy kan ’n soortgelyke rol as dié van die Indiese veelsydige draaier Ravichandran Ashwin vertolk.

“Wat ’n speler soos hy jou bied, is presies dit – ’n veelsydige pakket van vaardighede,” sê Van Zyl.

“Ons raak soms so gefikseer daarop dat ’n veelsydige speler iemand is wat kolf en naatballe boul, terwyl selfs ’n paaltjiewagter ’n veelsydige speler kan wees, omdat sy teenwoordigheid meer plekke in die span ‘losmaak’.

“Hy bied vir ons ’n opsie as ’n derde draaier, of selfs as die tweede draaier, afhangende van die spandirekteur (Enoch Nkwe) se voorkeur volgens die speeltoestande vir ’n betrokke toets.”

Die Proteas gaan beslis vanjaar met ’n stewige draaiboul-arsenaal Indië toe.

Dane Piedt is as die Meerdagspeler van die Jaar aangewys. Foto: Gallo Images

Piedt (29) was verreweg die voorste lopievraat in die meerdagreeks. Hy is boonop as die meerdagreeks se Speler van die Jaar aangewys.

Hy het 54 slagoffers teen 27.74 lopies per paaltjie en 56.8 aflewerings per paaltjie in 18 beurte platgetrek. Sy seisoen het vyf oeste van vyf paaltjies in ’n beurt en twee oeste van tien paaltjies in ’n wedstryd ingesluit.

Die nr. 2 op dié lys, Dane Paterson, het 20 paaltjies minder as Piedt platgetrek.

Die neiging in hedendaagse krieket is om ’n gewrigsdraaier in jou span te hê en Van Zyl sê hulle het dit oorweeg om Tabraiz Shamsi te kies.

Op die ou end is Piedt vir sy puik, bestendige vertonings beloon.

Hoewel hulle albei (Maharaj en Piedt) vingerdraaiers is, draai hulle die bal verskillende kante toe. Beheer gaan ook bitter belangrik in daardie toestande wees.
Corrie van Zyl

“Hoewel hulle albei (Maharaj en Piedt) vingerdraaiers is, draai hulle die bal verskillende kante toe. Beheer gaan ook bitter belangrik in daardie toestande wees,” sê hy.

Maharaj draai die bal weg van ’n regshandige kolwer, omdat hy ’n hotklou is. Piedt is ’n konvensionele wegbreekbouler, so hy draai die bal in na ’n regskolwer.

Piedt se beheer is ook strate beter as dié van Shamsi. Hy is op die koop toe boonop ’n beter kolwer as Shamsi en het ’n vyftigtal en ’n honderdtal in die afgelope seisoen se meerdagreeks aangeteken.

Laerordelopies kan waardevol wees in Indië.

Meer oor:  Dane Piedt  |  Grant Morgan  |  Indie  |  Toetskrieket  |  Subkontinent  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.