Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Mignon kyk dié hoogtepunte oor en oor

Sy het sommer al ’n paar keer weer na die hoogtepunte van dié wedstryd gekyk.

Mignon du Preez vier Suid-Afrika se geskiedkundige sege oor Engeland nadat sy die wenlopies gemoker het. Foto: Gallo Images

“Die oomblik het so vinnig verbygegaan dat ek net moes seker maak dat dit het regtig gebeur het,” sê Mignon du Preez.

Dié “oomblik” waarna die ervare kolwer van die Suid-Afrikaanse vroue-krieketspan verwys, was in die laaste boulbeurt van hul T20-wedstryd teen Engeland in die Wêreldbeker-toernooi in Australië vroeër vanjaar. Haar onverskrokke houespel kan haar ook nou ’n eerbewys besorg en sy is ’n gunsteling om op 4 Julie met die KFC Streetwise-toekenning op Krieket Suid-Afrika se prysuitdeling weg te stap.

Du Preez is in dié kategorie saam met haar spanmaat die kolwer Laura Wolvaardt en die Proteas se snelbouler Lungi Ngidi benoem. Dié eerbewys gaan aan ’n speler wat ’n spesiale oomblik in ’n wedstryd beleef of ’n mylpaal behaal het.

Du Preez was in die T20-wedstryd teen die Engelse in Perth die eerste Suid-Afrikaner wat in 100 T20-wedstryde gespeel het en sy het dit gepas gevier deur die wenlopies te moker.

Suid-Afrika het nege lopies van die laaste boulbeurt benodig om die Engelse ’n eerste keer in dié toernooi te klop. Du Preez het die derde aflewering van Katherine Brunt vir ses geslaan en toe met die volgende aflewering die wenlopies behaal.

Suid-Afrika (124/4 in 19.4 bbe.) het die wêreld se nommertwee-span met ses paaltjies geskok en later die halfeindronde gehaal.

Mignon du Preez (15*) trek los in die wedstryd teen die Engelse op die Waca in Perth. Foto: Gallo Images

Du Preez het dit as ’n groot prestasie van haar jaar en loopbaan uitgesonder.

“Beslis. Ons het Engeland nog nooit in ’n Wêreldbeker-toernooi geklop nie. Om die wenlopies te slaan, in my 100ste wedstryd, en Engeland te klop was nie net die hoogtepunt van my jaar nie, maar ’n top-drie-hoogtepunt in my loopbaan. Dit was regtig ’n baie spesiale dag, wat ek vir altyd sal onthou.”

Die 30-jarige Du Preez, ’n voormalige kaptein, wat ook al 130 eendagwedstryde vir Suid-Afrika gespeel het, is opnuut aangevuur en dink nog nie glad nie aan afskaal nie. Daarvoor is daar te veel geelwortels.

“Glad nie enige tyd in die nabye toekoms nie. Vroue-krieket gaan in 2022 vir die eerste keer deel van die Statebondspele wees en ek wil beslis deel van die spesiale geleentheid wees.

“Suid-Afrika gaan ook vir die eerste keer die T20-Wêreldbeker-toernooi in 2022 aanbied en ek wil dit nie misloop nie.”

As sy die dag begin aanstaltes maak, sal sy dalk daarin belang sel om ’n afrigter te word?

“Ek sal dit ook oorweeg, maar my passie is meer die bestuur, administrasie en bemarking van krieket. Ek geniet dit ook om as kommentator op te tree.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.