Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Mignon maak geskiedenis in mylpaal-stryd
Mignon du Preez (links) en Suné Luus nadat Suid-Afrika die kragmeting beklink het. Foto: Getty Images

Die strydros Mignon du Preez het haar 100ste T20-wedstryd vir die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan in styl gevier deur die Proteas met haar kolf tot ’n oorwinning oor Engeland te lei.

Suid-Afrika het die Engelse Sondag met ses paaltjies in sy eerste kragmeting van die T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) in Perth geklop.

Die Proteas (127/4 in 19.4 boulbeurte) het die Engelse (123/8) ingestuur om eerste te kolf.

Suid-Afrika het op 91/3 nog 33 van die laaste drie beurte benodig en toe later nege van die laaste boulbeurt.

Die 30-jarige Du Preez (18*, 11 balle), die eerste Suid-Afrikaanse vrou om haar land in 100 T20-wedstryde te verteenwoordig, het in die laaste boulbeurt kalm gebly toe dit gelyk het of die Engelse gaan wen.

Sy het ’n ses van die derde laaste bal gemoker en dit opgevolg met ’n vier.

Dit was die eerste keer ooit dat Suid-Afrika daarin kon slaag om Engeland in ’n T20-WB-wedstryd te klop.

Suid-Afrika se kolwers het aanvanklik stadig begin en het slegs 21/1 ná vyf boulbeurte op die telbord gehad. Boonop het die aanvangskolwer Lizelle Lee (4) ook vroeg haar paaltjie verloor.

Maar dit was duidelik dat dit vir die Proteas belangrik was om goeie vennootskappe vroeg in hul kolfbeurt te bou. Ná Lee se vertrek, het Marizanne Kapp haar by die Suid-Afrikaners se kaptein, Dané van Niekerk, aangesluit.

Die twee het 84 lopies om die tweede paaltjie aangeteken, voordat Kapp (38, 33 b) uit is. Van Niekerk (46, 51 balle) het kort daarna gevolg.

Dit het Du Preez en Chloe Tryon bymekaargebring. Die twee het Suid-Afrika bitter naby aan ’n oorwinning gebring, voordat Tryon (12) met die laaste bal van die voorlaaste boulbeurt uit is. Maar dit was nie vir Du Preez ’n krisis nie.

In die Engelse se kolfbeurt was dit vroeg duidelik dat die Suid-Afrikaners ’n behoorlike plan gehad het.

Nonkululeko Mlaba, ’n draaier, het ietwat verrassend die eerste boulbeurt afgestuur. Engeland se Amy Jones het egter gemaklik gelyk en twee viere van daardie eerste boulbeurt aangeteken.

Jones (23, 20 b), wat aanvallend gekolf het, was die eerste paaltjie wat geval het, toe sy in die vierde boulbeurt deur Tryon van Kapp se boulwerk uitgevang is.

Haar aanvangsvennoot, Danni Wyatt (2), het kort daarna gevolg, toe sy op punt deur Lee uitgevang is ná ’n aflewering ver buite die wegpen deur Ayabonga Khaka.

Dit was Khaka, ’n naatbouler, se eerste van drie paaltjies. Van Niekerk het self goed geboul en 2/20 in haar vier boulbeurte met haar draaiballe laat kantel.

Ná Jones en Wyatt se vertrek, het die Engelse se lopies bietjie opgedroog. Ook deels omdat hulle aan bande gelê is deur goeie boul- en veldwerk deur die Proteas.

Engeland se beste kolwer was Natalie Sciver, wat 50 van 41 balle aangeteken het.

TELKAART

Meer oor:  Protea-Vroue  |  Perth  |  Vrouekrieket  |  Proteas  |  Mignon Du Preez  |  T20-Wb  |  Engeland  |  T20-Wêreldbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.