Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
David Miller klaar met rooibalkrieket

Twee jaar gelede was dit nog sy droom om toetskrieket vir Suid-Afrika te speel, maar David Miller het aan die vooraand van die nuwe krieket-seisoen besluit om rooibalkrieket vaarwel toe te roep.

Miller het Dinsdag aangekondig dat hy vir ’n onbepaalde tydperk nie eersterangse krieket sal speel nie. Hy sal steeds beskikbaar wees om eendag- en T20-krieket vir die Dolphins en die Proteas te speel.

David Miller sal hom voortaan slegs op eendagkrieket toespits. Foto: Gallo Images

“Dit was ’n moeilike besluit. Ek was nog altyd mal daaroor om rooibalkrieket te speel, maar ek het besluit om in die toekoms liewer op witbalkrieket te fokus,” het Miller in ’n verklaring van Krieket Suid-Afrika (KSA) gesê.

“Ek wil seker maak ek gee myself die beste geleentheid om vir die Proteas te speel in die formaat waarvoor ek lief is.

“Dit is vir my ’n belangrike besluit, veral met die Wêreldbekertoernooi wat volgende jaar plaasvind.”

Volgens Miller wil hy ook die Dolphins help om trofeë te wen in die eendag- en T20-reekse.

Toe dié hotklou hom in 2016 van die Dolphins by die Knights aangesluit het, het hy sy begeerte om toetskrieket te speel onomwonde uitgespreek.

“Ek wou sedert my kleintyd vir my land speel. Toe dit ’n realiteit word (eendag- en T20-wedstryde), toe begin ek droom van toetskrieket. Dit is beslis ’n doelwit om vir Suid-Afrika in wit klere te speel,” het Miller in 2016 in ’n onderhoud met Netwerk24 gesê.

Thabang Moroe, KSA se uitvoerende hoof, het Dinsdag sy teleurstelling met Miller se besluit uitgespreek, maar gesê hy verstaan en ondersteun ook dié speler se besluit.

“Dit is teleurstellend om vir David te verloor uit die groep van potensiële toetsspelers. Op 29-jarige ouderdom het hy nog baie jare se goeie krieket in hom, maar terselfdertyd moet ons verstaan dat hy sy volle gewig agter die Proteas se veldtog wil gooi om die Wêreldbekertoernooi te probeer wen,” sê Moroe.

David Miller verlede jaar in ’n meerdagwedstryd vir die Knights in aksie. Foto: Gallo Images

“Hy het nog tyd om sy eersterangse loopbaan later te hervat en ek hoop werklik nie ons het die laaste van hom in rooibalkrieket gesien nie, waar hy in die verlede reeds sy onmiskenbare talente tentoongestel het.”

Miller het 3 342 eersterangse lopies in 63 wedstryde teen ’n gemiddelde van 36.32 aangeteken. Hy het ses eersterangse honderdtalle geslaan en 19 vyftigtalle.

Met ’n gaping wat nou in sy skedule ontstaan het vir Desember en Januarie, kan Miller dit moontlik oorweeg om ’n Big Bash T20-kontrak in Australië te probeer bekom.

Meer oor:  Ksa  |  David Miller  |  Meerdagkrieket  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.