Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Miller, Maharaj voer Dolphins na sege
David Miller het Woensdag opnuut sy waarde uitgestal. Foto: Gallo Images

As David Miller sy goeie spelpeil kan volhou, kan hy later vanjaar in Indië ’n groot wapen vir die Proteas by die T20-Wêreldbeker-toernooi wees.

En as Keshav Maharaj aanhou om só te boul, sal Mark Boucher hom eenvoudig kans móét gee in die internasionale T20-span.

Dié twee spelers was Woensdag die Dolphins se uitblinkers met onderskeidelik die kolf en die bal in hul vierde agtereenvolgende oorwinning in vanjaar se plaaslike T20-reeks in Durban.

Die Dolphins het die ewe indrukwekkende Lions gerieflik met 41 lopies getroef.

Die Dolphins het eerste gekolf en hul lopietempo is aanvanklik deur die goeie boulwerk van Kagiso Rabada (1/25 in vier boulbeurte) en Beuran Hendricks (0/22 in vier bbe.) in bedwang gehou.

Keegan Petersen (35, 34 balle) het goed gekolf, maar het gesukkel om die lopietempo te versnel. Hy is in die 10de boulbeurt uit, met die Dolphins se telling op 69/3. Baie werk was nodig om hulle by ’n mededingende telling uit te kry.

Miller het gesê, ‘ék is die ou om ons daar te kry’.

Die Protea-mokerman het drie sesse en drie viere geslaan onderweg na sy onoorwonne beurt van 56 van 38 aflewerings. Hy het die Dolphins by 151/4 uitgekry.

Vroeër vandeesmaand was hy ook die Proteas se kolfheld in die derde T20-wedstryd teen Pakistan.

Miller is op sy beste as hy homself eers net ’n bietjie kan inspeel voordat hy begin swaai. Woensdag kon hy dít doen. Dan is hy verwoestend.

Sy kaptein, Maharaj, is net so verwoestend. Hy is bykans onspeelbaar. Woensdag het sy syfers van 1/10 in sy vier beurte die Dolphins gehelp om die Lions vir 110 uit te boul.

Sy kaptein, Maharaj, is net so verwoestend. Hy is bykans onspeelbaar. Woensdag het sy syfers van 1/10 in sy vier beurte die Dolphins gehelp om die Lions vir 110 uit te boul.

Maharaj is verreweg die mees ekonomiese bouler in die reeks onder diegene wat meer as vyf beurte afgestuur het.

In sy 16 boulbeurte het hy nog net 55 lopies afgestaan. Dit kom neer op ’n skamele 3.43 lopies per boulbeurt, wat ongehoord in T20-krieket is. Maharaj het boonop al sewe paaltjies platgetrek.

Hy is ’n gereelde lid van die toetsspan en het al in sewe eendagwedstryde gespeel, maar het nog nie sy T20-buiging gemaak nie. As hy só aanhou, sal die keurders hom nie vir lank kan ignoreer nie.

Woensdag was sy draai-vennoot, Prenelan Subrayan (3/18 in vier bbe.) ook puik.

Die Dolphins is na dese verseker van ’n plek in die uitspeelronde en het ’n goeie kans om eerste te eindig.

• In die eerste wedstryd van die dag, het die Warriors met ’n skitterende terugvegpoging vir ’n opskudding veroorsaak deur ’n sterk Titans-span met 43 lopies te troef.

Die Warriors het ná 6.5 boulbeurte op 33/4 gesteier, maar goeie beurte deur Wihan Lubbe (35, 29 b), Tristan Stubbs (44, 31 b) en Ayabulela Gwamane (37, 17 b) het hulle by ’n mededingende telling van 157/9 uitgekry.

Lubbe en die 20-jarige Stubbs se vennootskap van 54 lopies om die vyfde paaltjie, het hul span terug op koers gekry voordat Gqamane hulle met ’n paar groot houe in die doodsnikbeurte verdere momentum gegee het.

Chris Morris (2/26 in vier bbe.) was weer die Titans se beste bouler.

Die Warriors se Mthiwekhaya Nabe vier een van sy vier paaltjies teen die Titans. Foto: Gallo Images

Met agt Proteas in hul geledere, sou die Titans glo dat hulle dié teiken kon bereik.

Aiden Markram (31, 28 b) het probeer om ’n goeie grondslag te lê en Heinrich Klaasen (22, 20 b) het sy span uit die moeilikheid probeer kolf, maar die Warriors se boulwerk was eenvoudig te goed.

Die ster van die wedstryd was die slim naatbouler Mthiwekhaya Nabe, wat met ’n boulontleding van 4/21 in sy vier beurte geëindig het.

“Ek het probeer om te kyk wat die Titans met die bal gedoen het en dít toegepas toe ons geboul het. Ek het my vaardighede vertrou en my taak verrig,” sê Nabe.

Hy sê die Protea-bouler Anrich Nortjé (1/21 in vier bbe.) help die Warriors-boulers om hul velde te plaas en met raad oor waar om na sekere kolwers te boul.

Meer oor:  Keshav Maharaj  |  David Miller  |  Durban  |  Johannesburg  |  Proteas  |  Dolphins  |  Lions  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.