Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Miller neem leisels by Faf vir reeks

David Miller is kort ná sy heldedade in Kaapstad Vrydagaand in die veld teen Pakistan as die Proteas se kaptein aangewys vir die oorblywende twee T20-wedstryde in die reeks.

Die Proteas vier Vrydagaand die paaltjie van Shoaib Malik, wat sy kolf uit frustrasie in die lug geslinger het. Foto: AP

Faf du Plessis sal met die oog op die toetsreeks teen Sri Lanka eers rus en Suid-Afrika se krieket-keurders het die geleentheid raakgesien om hul diepte ten opsigte van leierskap uit te bou.

“David is baie ervare en dwing respek af binne die Proteas-opset. Die laaste twee wedstryde sal ’n geleentheid wees om leiers vir die toekoms te kweek,” het Linda Zondi, sameroeper van die nasionale keurkomitee, gister in ’n nuusverklaring gesê.

Du Plessis, wat Vrydag op Nuweland ’n puik beurt (78 lopies in 45 balle) gespeel het in die sege van ses lopies oor die wêreld se beste blitsspan, wil sy “tenk weer volmaak.

“Daar was baie krieket die afgelope tyd vir ons ouens wat in al drie formate speel,” het Du Plessis gesê nadat hy eers geskerts het dat die afrigter hom gepos het vir die volgende twee blitsstryde.

Die Proteas se besielende kaptein het Vrydag ’n rekordvennootskap van 131 lopies met Reeza Hendricks (74) om die tweede paaltjie gedeel om Suid-Afrika tot ’n rekordtelling van 192/6 op Nuweland aan te voer in die eerste T20-stryd.

Miller is egter danksy uitmuntende veldwerk as die Speler van die Wedstryd aangewys. Hy het vier vangkanse benut en twee Pakistanse kolwers met direkte gooie uitgehardloop om die besoekers tot 186/9 te beperk.

Die vier vangkanse was die meeste deur ’n veldwerker in ’n blitswedstryd vir Suid-Afrika.

Faf duPlessis

Suid-Afrika se boulers het deur gedissiplineerde boulwerk, veral in die laaste oomblikke van die wedstryd, met groot eer uit die stryd getree.toe genoeg gedoen om Pakistan tot oorgawe te dwing met gedissiplineerde boulwerk, veral in die laaste oomblikke van die wedstryd.

Volgens Du Plessis is dit presies die soort boulwerk wat hy van sy boulers vereis.

“Ons beweeg in die regte rigting wat ons boulwerk aan die einde van ’n kolfbeurt betref,” het Du Plessis gesê.

“Vir die laaste ruk, ook in Australië, was ons naatboulers baie goed. Ons was in die eendag­reeks (teen Pakistan) nie waffers nie, maar vanaand se splinternuwe boulaanval het sy pligte baie goed uitgevoer.

“Dis baie goed om te sien dat hulle die stryd kon beklink en veral Morry (Chris Morris) wat teen die einde senuwees van staal getoon het.

“Dis regtig lekker om te kyk hoe jou bouler amper vyf streepballe boul en net een grenshou afstaan.

“Ons het ’n goeie vertoning gelewer. Pakistan is loshande die beste T20-span die laaste paar jaar. Ons het verskillende spelers kans gegee en het nie dieselfde span (oor dieselfde tydperk) ingestuur nie. Om dan so ’n vertoning te lewer, maak my baie gelukkig met die wen.”

Du Plessis het bevestig daar gaan nog veranderinge aan die T20-span gemaak word, met hyself wat ’n blaaskans gaan vat.

Met JP Duminy wat ook steeds van ’n besering herstel, sal Suid-Afrika vandag ’n ander kaptein moet aanwys vir die tweede T20-stryd op die Wanderers.

Du Plessis is ook baie beïndruk deur die bestendigheid wat Hendricks die laaste tyd met die kolf toon, veral omdat hy eers net hier en daar lopies aangeteken het.

“Ons het altyd geweet hy het daardie flair as ’n speler en hy is een van die ouens wat aanskoulike houe speel wanneer hy boulers deur die dekke dryf of van sy agtervoet af speel.

“Vir hom was dit om konsekwent lopies aan te teken en ek voel hy het dit nou tot sy arsenaal gevoeg.

“Hy begin meer sukses behaal. Dis nie net een uit vyf beurte waar hy lopies aanteken nie, maar deesdae drie uit vyf keer en dis baie belangrik.”

Ten spyte van Du Plessis en Hendricks se uitnemende spel met die kolf, is David Miller Vrydag as speler van die wedstryd aangewys. Hy was ’n reus in die veld en het met sy goeie veldwerk ’n aandeel gehad in ses van die Pakistanse paaltjies wat gekantel het op pad na hul telling van 186/9. Miller het vier vangkanse benut en twee Pakistanse kolwers met direkte gooie uitgehardloop.

Quinton de Kock is onttrek aan die T20-groep weens ’n liesbesering, met die Cobras se Janneman Malan wat sy plek inneem.

Meer oor:  David Miller  |  Faf Du Plessis  |  Pakistan  |  Proteas  |  Kaptein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.