Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
‘Miller time’? Watse ‘Miller time’?

Dit was die wedstryd teen Pakistan op Lord’s. Dit is waar die Proteas se Wêreldbeker-vlam finaal en wreed geblus is.

Dit was ook David Miller se laaste wedstryd van Suid-Afrika se veldtog, ná ’n rits oninspirerende 30-talle.

Ná daardie nederlaag het Miller die media te woord gestaan. Hy is gevra of dit nie aanlokliker lyk om ’n T20-huursoldaat te word, as om steeds vir die Proteas te speel nie.

Nee, het Miller verseker. “Dit is steeds ’n groot ding vir my om my land te verteenwoordig,” het hy gesê.

Maar dis dalk tyd dat die Protea-breintrust besin of hulle Miller nog wil hê . . .

David Miller se stadige lopietempo het die Proteas duur te staan gekom in die tweede T20-wedstryd teen Indië. Foto: Gallo Images

Die Proteas het die tweede T20-kragmeting met Indië Woensdag in Mohali grotendeels verloor weens Miller se onvermoë om die lopietempo te versnel. Die Proteas moet Sondag se derde en laaste T20-wedstryd in Bengaluru teen die Indiërs wen om die reeks gelykop te laat eindig.

Dié wedstryd moet die 30-jarige Miller se proefwedstryd wees om te bewys hy hoort nog in die span en hy is die aangewese mokerman om die Proteas te help om volgende jaar se T20-Wêreldbeker-toernooi te wen.

Woensdag kon Miller nie sy taak verrig nie. Hy het ingestap met die Proteas op 90/3 ná 12.1 boulbeurte. Dit was die perfekte grondslag vir hom om vanaf te ontplof.

Dit is steeds ’n groot ding vir my om my land te verteenwoordig.
David Miller

Maar helaas. Hy het geraap-en-skraap om 18 lopies van 15 balle aan te teken.

Toe hy in die voorlaaste boulbeurt uit is, was die Proteas se strewe na ’n telling van meer as 180 daarmee heen. Dit is in die aard van ’n mokerman se posbeskrywing dat hy elke dan en wan gaan misluk. Maar ’n mens sal verwag om hom te sien, soos die Engelsman sê: “Going down swinging”.

Miller het maar min geswaai.

Dit is ook nie ’n nuwe neiging nie. Sy loopbaantreftempo vir die Proteas in T20-wedstryde is ’n skitterende 140.

Sedert die begin van 2018 tref hy teen minder as dít – 135.78. Op die oog af lyk dit steeds na ’n skaflike treftempo, maar dit word skeefgetrek deur ’n goeie beurt wat hy in Februarie teen Pakistan gespeel het.

Teen Indië tref hy teen slegs 114.28 in vier wedstryde in dié tydperk. Anders gestel: Hy kolf net ’n raps vinniger as ’n lopie per bal, wat in die konteks van T20-krieket maar bra stadig is.

Die probleem is ook dat Miller veronderstel is om Suid-Afrika se X-faktor in die middelorde te wees. Hy is die een kanonkolwer wat eintlik teen 160 moet tref.

Tot dusver word sy loopbaan gekenmerk deur ’n skitterende beurt elke nou en dan – soos sy 138 in ’n beslissende eendagwedstryd teen die Aussies in Hobart in 2018, of sy 118* teen Australië in Durban in 2016.

Sulke beurte kom net nie bestendig genoeg nie. Noudat dit lyk of hy boonop sukkel om sy kerntaak te verrig – om die treftempo op te stoot – is dit tyd dat die waarnemende spandirekteur, Enoch Nkwe, ’n ernstige gesprek met Miller het.

Die Proteas kan in die opkomende Mzansi-superliga (MSL) kyk of daar nie ’n geskikte middelorde-verwoester is wat meer druk op Miller kan plaas om meer bestendig goed te vertoon nie.

Maar voor dit moet Miller Sondag wys wat presies “Miller time” nou eintlik is.

Indië (uit): Virat Kohli (k), Rohit Sharma (o-k), Shikhar Dhawan, KL Rahul, Shreyas Iyer, Manish Pandey, Rishabh Pant, Hardik Pandya, Ravindra Jadeja, Krunal Pandya, Washington Sundar, Rahul Chahar, Khaleel Ahmed, Deepak Chahar, Navdeep Saini.

Suid-Afrika (uit): Quinton de Kock (k), Rassie van der Dussen (o-k), Temba Bavuma, Junior Dala, Bjorn Fortuin, Beuran Hendricks, Reeza Hendricks, David Miller, Anrich Nortjé, Andile Phehlukwayo, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Tabraiz Shamsi, George Linde.

  • TV: 15:20 op SS 2 en GDN.

Meer oor:  David Miller  |  Indië  |  T20  |  Proteas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.