Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Min oefentyd kwel Protea-breier nie

Hoewel die Protea-vrouekrieketspan weens kwarantynvereistes slegs twee dae op die oefenveld sal deurbring voor sy eerste wedstryd in Indië, besorg dit die bestuurspan nie slapelose nagte nie.

Suid-Afrika se eerste eendagwedstryd in ’n reeks van vyf is Sondag in Lucknow. Daarna sal die spanne ook in drie T20-stryde kragte meet.

Lizelle Lee is een van die Proteas se aanvangskolwers. Die Suid-Afrikaners sal hoop dat sy ’n goeie grondslag vir hulle kan lê in die eendagreeks teen Indië. Foto: Gallo Images

Tog sal Suné Luus, die Proteas se kaptein, en haar spanmaats eers Vrydag hul eerste oefensessie in Indië hê. Die spelers het Saterdag in Asië aangekom en moet tot Donderdag in kwarantyn bly – ’n reëling wat geld weens die Covid-19-pandemie.

Hilton Moreeng, afrigter van Suid-Afrika, het Woensdag op ’n aanlyn mediakonferensie daarop gewys dat dit nie sy span onverhoeds betrap het nie.

“Dit is môre ons laaste dag in kwarantyn en die spelers se gemoedstoestand is goed. Die opbou vooraf was goed.

“Hoewel ons net twee dae gaan hê om voor te berei voor die eerste wedstryd, is daar vooraf baie werk ingesit,” sê Moreeng.

Hilton Moreeng, afrigter van die Protea-vrouekrieketspan, spreek Woensdag die media vanuit sy hotelkamer in Indië toe. Foto: Gallo Images

Hy het ook genoem dat die Proteas se onlangse reekse op eie bodem teen Pakistan, wat ook in ’n bioborrel beslis is, sy span help voorberei het vir die vreemde omstandighede waarin sport tans beoefen word.

“Elke speler is nou al blootgestel aan ’n borrel, omdat dit die tweede keer sal wees wat ons onder dié omstandighede gaan speel.”

Indië is allermins ’n maklike plek vir besoekende spanne, met kolfblaaie wat gewoonlik draaibalboulers bevoordeel. Dit is gewoonlik besoekers se doodsteek, met kolwers wat gereeld op die subkontinent kleitrap.

Maar Moreeng sê die Proteas moet vertroue in hul vaardighede hê.

“Hulle moet die toestande vat soos dit kom. Jy wil nie ’n geval hê waar jy jou begin bekommer oor dinge nie. As ’n span weet ons wat ons sterkpunte is en waartoe ons in staat is,” sê hy.

“Op die einde van die dag moet die spelers aanhou om hard te werk en dan die regte besluit in drukkoker-situasies neem.”

Meer oor:  Hilton Moreeng  |  Suné Luus  |  Lucknow  |  Proteas  |  Vrouekrieket  |  Protea-Vrouekrieketspan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.