Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Minister gaan amptelik by KSA ingryp

Nathi Mthethwa, minister van sport, gaan amptelik by Krieket Suid-Afrika (KSA) inmeng nadat die beheerliggaam se lederaad Saterdagaand besluit het om nié ’n wysiging aan die beheerliggaam se grondwet goed te keur nie, selfs al het die lederaad ’n week vantevore die onderneming gegee om dit wel te doen.

Die lederaad se U-draai hou nou ernstige gevolge vir krieket in Suid-Afrika in.

Nathi Mthethwa, die minister van sport, Saterdagaand tydens KSA se spesiale algemene vergadering. Foto: Gallo Images

Mthethwa het Sondagoggend vroeg ’n verklaring uitgereik waarin hy sy voorneme uitstippel om volgens art. 13(5) van die Nasionale Wet op Sport en Ontspanning by die beheerliggaam in te gryp.

Dit plaas die spel in Suid-Afrika in die gedrang.

Hy het sy teleurstelling uitgespreek nadat vyf lederaadslede in ’n geheime stemming teen die wysiging van die grondwet gestem het. Die gewysigde grondwet was geoormerk om krieket meer onafhanklik te maak en met internasionale standaarde te belyn. Dit sou egter beteken dat die lederaad – wat bestaan uit die 14 provinsiale uniepresidente – hul mag in die organisasie moes prysgee, want hulle sou nie meer die meerderheid van die raad uitmaak nie.

Selfs al het nege uit die 14 lederaadslede ’n week vantevore gestem dat daar voortaan wél ’n oorgrote meerderheid onafhanklike raadslede op die raad mag dien, en al het sewe van die 14 toe gestem vir ’n onafhanklike voorsitter, het hulle Saterdagaand in die geheime stemming anders besluit. Op Saterdag se spesiale algemene vergadering het ses lede ten gunste van die gewysigde grondwet gestem, vyf daarteen en drie het buite stemming gebly.

Mthethwa sê die lederaad het in kwader trou opgetree.

“Dit laat die minister met geen verdere opsie as om sy regte kragtens art. 13(5) van die Sportwet uit te oefen nie. Die minister sal volgende week die nodige stappe doen om sy regte kragtens dié wet uit te oefen.”

Volgens art. 13(5) van dié wet kan Mthethwa by ’n sportliggaam intree deur befondsing terug te trek, of deur die beheerliggaam voortaan nie verder as ’n amptelike sportliggaam erken nie.

Dit sal beteken dat KSA nie meer krieket in Suid-Afrika bestuur nie.

Dit sal beteken dat KSA nie meer krieket in Suid-Afrika bestuur nie.

Daar lê egter ander moeilikheid ook vir Suid-Afrikaanse krieket voor wanneer die minister vandeesweek sy intreereg uitoefen.

Regeringsinmenging is strydig met die Internasionale Krieketraad (IKR) se grondwet en ’n lidland kan daarvoor geskors word. As die IKR besluit om Suid-Afrika te skors, kan die Proteas nie meer aan internasionale reekse of toernooie deelneem nie.

Mthethwa het in Oktober 2020 ’n tussentydse raad aangestel om talle bestuurskrisisse by KSA te probeer oplos. Die lederaad – onder wie se bestuur al dié krisisse gebeur het – was van die begin af haaks met die tussentydse raad, en wou dié raad selfs nie amptelik bekragtig nie.

Al het die lederaad die tussentydse raad toe wel amptelik erken nadat Mthethwa met regeringsinmenging gedreig het, het die lederaad selde ’n begeerte getoon om krieket se beeld te herstel. Die lederaad het bly vasgeskop teen die gewysigde grondwet, sodat hulle nie beheer hoef prys te gee nie.

Saterdag se vergadering is as ’n blote formaliteit gesien, aangesien die lederaad reeds ’n week vantevore besluit het om die voorgestelde wysigings te aanvaar.

Die oomblik toe die lederaadslede Donovan May (OP), John Mogodi (Limpopo), Daniel Govender (KwaZulu-Natal), Tebogo Siko (Noordelikes) en Gibson Molale (Noord-Kaap) gevra het vir ’n geheime stemming, het sake verander. Toe kon die lederaad stem sonder dat enigiemand weet wie het hoe gestem.

Dr. Stavros Nicolaou, voorsitter van die tussentydse raad, het Saterdagaand in ’n verklaring gesê die lederaad is ’n minderheid wat die spel as gyselaar hou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.