Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
Moeen: Sterkste T20-span in 4 jaar pak Proteas

Die Proteas, wat in Maart laas internasionale krieket gespeel het, moet hulself staal vir ’n volsterkte Engelse T20-span wat vir die eerste keer ’n lang tyd gaan saamspeel.

Moeen Ali, veelsydige speler van Engeland. Foto: Gallo Images

Tydens Engeland se tuisreekse vroeër vanjaar het verskillende spelers in die toets- en witbalreekse gespeel. Voor dit is sleutelspelers boonop ruskans gegun tydens T20-reekse, omdat eendag- en toetskrieket die prioriteit was.

Met twee T20-Wêreldbeker-toernooie wat in die volgende twee jaar beslis word, verskuif die fokus egter nou na blitskrieket.

“Ons is hier met ’n volsterkte span en die mededinging om plekke is verwoed. Om op die vliegtuig te kon klim en die spelers te sien wat daar is, was ongelooflik,” sê Moeen Ali, veelsydige draaier van Engeland.

“Ek dink nie ons het al ’n volsterkte T20-span gehad sedert die T20-Wêreldbeker-toernooi (in 2016) nie en om dít te hê, is wonderlik.”

Die Proteas sal dus op hul beste moet wees wanneer die T20-reeks op 27 November op Nuweland begin.

Die honger het effens vervaag ’n paar jaar gelede, maar dit is nou besig om terug te kom.
Moeen Ali

Ali, op sy beste een van Engeland se gevaarlikste spelers en verwoestend met die kolf en bal, sê hy besef hy het lanklaas sy beste spelpeil gehandhaaf, maar streef nou daarna om weer daardie peil te bereik. Hy hoop om dit in dié reeks reg te kry.

“Die honger het effens vervaag ’n paar jaar gelede, maar dit is nou besig om terug te kom. Ek wil ook graag weer toetskrieket speel.

“Dit is meer van ’n geestelike ding as ’n fisieke ding. Ek kry wel baie goeie terugvoering van die afrigters en Ashley Giles (die Engelse Krieketraad se direkteur van krieket) oor die goed wat ek doen.

“Hulle glo ek lewer steeds ’n waardevolle bydrae tot die span en nou is dit my taak om goeie vertonings op die veld te lewer.

Dit is maar hoe dit deesdae is, maar ’n mens raak gewoond daaraan.
Moeen Ali

“Dit is ’n groot motivering om te mik na die T20-Wêreldbeker-toernooi (in Oktober en November in Indië volgende jaar).”

Hy verwag dat die atmosfeer sonder toeskouers by Nuweland effens anders as gewoonlik gaan wees.

“Dit is maar hoe dit deesdae is, maar ’n mens raak gewoond daaraan. By Nuweland is daar altyd ’n groot skare met baie geraas en dis jammer dat dit nie dié keer só gaan wees nie.”

Ali het ook gesê dit is baie goeie nuus dat Engeland volgende jaar in Oktober vir die eerste keer in 16 jaar na Pakistan sal toer.

Meer oor:  Suid-Afrika  |  Krieket  |  T20  |  Proteas  |  Moeen Ali  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.